Gedagte vir die dag: Vind rus in vertroue

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. (Psalm 131:1-2)

Een van die mooiste gesigte wat daar is, is sekerlik dié van ’n moeder wat haar baba in haar arms bewonder en die nuweling wat met groot ogies terugkyk na sy geliefde mammie. Ek sien dit in my geestesoog. In vandag se teksgedeelte gebruik die psalmdigter die beeld van ’n mamma en haar kind om sy verhouding teenoor die Here uit te druk. Hierdie beeld gee ons ’n vars nuwe siening oor God, God as moeder.

Wat wil die digter vir ons sê met die beeld? Ek dink hy wil die mens se totale afhanklikheid van God beklemtoon. Daar is sekerlik nie ’n beter beeld om hierdie gedagte mee te illustreer as die beeld van ’n baba wat niks vir hom- of haarself kan doen nie en totaal en al van mamma en pappa afhanklik is.

Ons moet daagliks ons eie beperkings besef, dit help nie ons het ’n verwaande of hoogmoedige houding voor God nie, ons het God nodig. Ja, daar is dinge wat ons met goeie besluitneming en die regte optrede kan bereik – ek glo ook hierin lei God ons. Daar is egter meer dinge wat in ons lewe gebeur waaraan ons as mense net mooi niks kan doen nie en waaroor ons geen beheer het nie. Daarom moet ons ons absolute afhanklikheid van God erken. Soos die bidder van die psalm moet dit ook ons grootste ambisie wees om God in nederigheid te vertrou. Ons moet soos die psalmdigter ons lojaliteit aan die Here verklaar en erken dat ons maar net “babas” is wat God nodig het.

Die wonder is dat die oomblik wanneer ons ons afhanklikheid van God verklaar bied dit vir ons goddelike vrede en kalmte. Die gevolg van ons nederigheid voor God is dat ons nie meer rusteloos van hart is nie. Soos ’n huilende baba rustig raak in sy moeder se arms, só raak ons rustig wanneer ons besef ons is veilig in God se hand. Iemand het eenkeer gesê: “Hy wat op homself vertrou is verlore. Hy wat op God vertrou is tot alles in staat.”

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Baie gerusstellend vir iemand in my benarde posisie ek dank u Here

Wie weet ·

Mag ons nie dink ons is beter as enige iemand anders nie God haat hoogmoed ek beleef elke dag hoe mense dink hulle is beter as anders
Prys ons God sonder God is ek leeg Kan sonder God n suksesvolle lewe maak nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.