God sal julle nie los nie. Hy sal by julle bly. By Hom sal julle veilig en gelukkig voel. (Filippense 4:9)
Vroue stel geluk uit. Luister maar na die gesprek van enige groepie vroue. Die een sal kla oor haar werk en glo dat as sy net eers ’n ander betrekking het, sy gelukkiger sal wees. Iemand anders sê as sy tog net ’n paar kilogram kan verloor, sal haar lewe heeltemal anders wees. ’n Derde een hoop om uit haar huwelik te ontsnap sodat sy haarself kan vind terwyl die vierde kameraad vies is omdat haar tieners haar lewe so versuur. En so bekla ons ons lot gedurig bymekaar.
Nou ja, baie vroue het meer as genoeg rede om sielsongelukkig te wees. Maar dalk moet ons by ’n volgende saamkuier die gesprek in ’n ander rigting stuur deur vir mekaar te vertel waarom ons dankbaar en bly is. Ons weet mos dat daar – ondanks ons omstandighede – altyd iets is waarvoor ons dankie kan sê en waaroor ons gelukkig kan wees.
Besluit om vandag – ten spyte van wat ook al – werklik gelukkig te wees. Jy sal verbaas wees oor hoeveel lewensvreugde daar wél is.
Vader, maak my ’n dankbare en lewensblye mens.
Amen