Gedagte vir die dag:  Vir altyd

hawaii-berge_wolke_valleie_Pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. (Hebreërs 13:8)

Dis nie net kleremodes, haarstyle, grimering, eetgewoontes en gaar­maakmetodes wat verander nie. Kommunikasie, medikasie, onder­wys, behuising en vervoer is deur die eeue heen drasties aangepas. In Jesus se tyd was daar nie eens Wikingskepe nie, wat nog te sê ruimtevaartuie. Die lewe was dalk rustiger, maar ook nie so maklik nie. Blikkieskos, gaskoeldran­ke en roomys was nog nie uitgevind nie, ook nie teesakkies, kitskoffie en vuurhoutjies nie. Selfhelpwinkels, supermarkte en winkelsentrums was net so ongehoord soos stofsuiers, wasmasjiene, elektrisiteit en rekenaars. Om nie te praat van brille, gehoorapparate, valstande en kunsledemate nie. Die wiel was al uitgevind, maar niemand het daaraan gedink om ’n fiets te ontwerp nie!

In Jesus se tyd is boerdery op klein skaal beoefen en die hele gesin het saamgewerk. Visvang op die See van Galilea het floreer, ook ambagte soos die giet van metaalhouers, pottebakkery, skrynwerk, wewery en goudsmedery. Die leerbedryf was belangrik, want leer is benodig vir die maak van klere, gordels, skoene, wyn- en watersakke. Daar was ook bakkers, bouers, skoen­makers, spykermakers, tollenaars, onderwysers, dokters, skrifgeleerdes, raadslede en ander godsdiensleiers.

Die samelewing het duidelik hemelsbreed van ons s’n verskil. Maar ons het genoeg inligting om hulle in hul historiese konteks te plaas en te besef dat ons deur al hierdie eeue heen emosioneel en moreel min verander het. Ons het immers ons Christelikes waardes by hulle geërf. Ongelukkig sukkel ons ook nes hulle om daaraan te voldoen. Net Een is sondeloos, net Een het nie van sy beginsels afgewyk nie – Jesus ons Here.

Here Jesus, ons leef in ’n ander wêreld as die een waar U as mens gewandel het. Maar ons tegnologie skeel U min, want U is en bly die Begin en die Einde. Die lewensvreugde wat ons in U het, is al wat sal vasstaan. Dankie dat U dit dag vir dag vir ons uitdeel.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.