Gedagte vir die dag: Vir altyd

hande

Foto: Argief.

As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk het en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. (Romeine 11:29)

Jy het jou keuse gemaak, die dag toe jy Jesus as jou Saligmaker aangeneem en jou lewe vir Hom oopgestel het. Versoekings sal kom en gaan. Jy kan toegee of nie. Maar selfs as jy toegee, sal God jou nie afskryf nie. Jy het sy stem gehoor en ingestem om jou werk aan Hom op te dra en jou talente vir die uitbreiding van sy koninkryk aan te wend. Soms word jy mislei deur stemme uit jou vorige lewe of mense wat jou wil oortuig dat daar beter opsies is. Maar God het jou vir ’n spesifieke taak voorberei. Hy het jou met ’n unieke persoonlikheid en die regte gawes geseën om jou werk te kan doen. Toe het Hy ’n kontrak met jou gesluit wat Hy nie van sy kant sal verbreek nie. Jou gawes sal nie skielik verdwyn nie, jou roeping sal vasstaan. As jy afdwaal, sal Hy jou terugbring en sy trou aan jou bevestig.

Moenie dit geringskat nie. Dis nie God wat mense verstoot nie, dis mense wat hulle in hul grootheidswaan verbeel dat hulle sonder God kan presteer. Miskien kry hulle dit selfs reg en raak bekend en beroemd, maar sulke leë prestasies dra nie goeie vrugte nie. Op ’n dag ontdek so ’n mens dat hy oud en eensaam is en dat niemand hom meer onthou nie. Sal hy dan nog kan bid? Dank God, die Gees pleit namens elkeen wat in berou voor Hom neerval. Hy is getrou en standvastig. Sy liefde is onveranderlik.

Here, U is die Gewer van goeie gawes, die God van liefde wat nooit verander nie. U het my lief en skenk my genade ver bo my begrip. Dankie dat U my elke keer dat ek afgedwaal het weer gaan haal het. U liefde vernuwe en versterk my geloof.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Natasha Esterhuizen ·

Dankie Jesus! Volhard in Jesus en Hy sal jou, jou hartsbegeertes gee.

Hendrik ·

Ek 43jare van my lewe gedrink, kaste vol een jaar terug my lot of Jesus geplaas en Hy en Hy alleen het my hand vasgehou en my daardeur getrek sonder rehabilitatasie sentrums. Ek prys Sy naam

Gerhard ·

Dankie Hendrik, het jou woorde nodig gehad. Is soos die gedeelte sê, God los ons nooit, maar ons verloor soms fokus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.