Gedagte vir die dag: Vir dié wat Hom liefhet   

Reenboog_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. (Romeine 8:28)             

Voel dit vir jou of al jou drome aan skerwe lê? Is jy deur ’n groot teleurstelling en het dít twyfel in jou hart kom saai?

In Jesus Christus is daar hoop! Deur sy onvoorwaardelike liefde, krag en genade is jy tot alles in staat. Dinge lyk dalk donker op die oomblik, maar skep moed, die situasie is nie hopeloos nie. Volhard in jou geloof in Jesus Christus en loop dié dag trompop met ’n hart propvol verwagting!

Jou hemelse Vader het jou nie vergeet nie. Die Heilige Gees is by jou en in jou, besig om volgens die wil van die Vader vir jou te pleit. Selfs al weet jy nie eens meer hoe of vir wat om te bid nie, pleit Hy met ’n versugting wat nie met woorde gesê kan word nie. Jy is kosbaar in sy oë. Wie jy is in Christus word nie verander deur omstandighede nie. Nee, jy ís uitverkies, jy ís geroep en jy hét ’n Godgegewe plan vir jou lewe! Jy ís vrygespreek en jy ís verheerlik in Hom. Niks kan jou van sy ongelooflike en nimmereindigende liefde vir jou skei nie.

Soms is dit juis in die valleie waar ons voedsel vind vir ons siel. Kies om die Here te prys, ongeag jou omstandighede. Vertrou op Hom, bly opreg van hart en rotsvas in sy liefde. Dié wat Hom hul eerste liefde maak, sal altyd vas bly staan. Die Woord belowe ons nie dat alles in ons lewe die spreekwoordelike maan skyn en rosegeur gaan wees nie. Dit beloof wel dat God alles, ongeag hoe moeilik, donker of swaar, ten goede sal laat meewerk, vir jóú wat Hom liefhet, want jý is geroep tot grootheid!

Here, dankie dat ek kan weet dat selfs in die storms van die lewe, bly U Heer en volkome in beheer. In Jesus se Naam. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Von ·

Here Jesus dankie dat ek elke belofte in U Woord my eie kaan maak…..dat daar niks maar niks is wat ons van U liefde kan skei nie…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.