Gedagte vir die dag: Vir ewig jonk?

 paartjie_gesels_uitsig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. (2 Korintiërs 4:16b, 18)

Dit is interessant hoe ons dag vir dag en jaar vir jaar in die spieël kyk en dan op ’n dag hier naby ons veertigste verjaarsdag besef ons ons lyk nie meer soos tien of twintig jaar terug nie, die ouderdom is besig ons in te haal. Plooitjies om ons oë verklap dit en gravitasie eis sy tol, want ewe skielik neig alles aan ons af grond toe. Ons besef, met effe van ’n skok, ons liggaam is toe al die tyd verganklik, al was daar ’n tyd in ons lewe toe ons gedink het ons gaan nooit oud of sieklik word nie. Dit is dan wanneer Paulus se woorde “ons is dag vir dag besig om uiterlik te vergaan” ons tref.

Paulus praat nie hier net van die verganklikheid van ons liggaam en hierdie wêreld nie, hy praat ook van daaglikse swaarkry en volharding. Voordat ons uit moedeloosheid wil ophou lees aan die swaarmoedige stukkie, gee Paulus ons hoop. Hy sê swaarkry en verganklikheid sal verbygaan om plek vir die toekomstige heerlikheid te maak wat vir altyd sal voortduur. Die versekering van toekomstige heerlikheid vul die hede met hoop, volharding en moed.

Wanneer ons ons oog op God en die ewige rig, ontspring daar ’n Goddelike blydskap en hoop in ons. Hierdie vreugde gaan ten nouste saam met totale vertroue in God te midde van ons omstandighede. Dit kan vergelyk word met ’n arend wat roerloos honderde meter in die lug hang. Hy vertrou die onsigbare lugstroom; hy sprei sy vlerke oop en dryf in absolute oorgawe op iets wat hy nie kan sien nie.

Nie ons omstandighede nie, maar die onwrikbare feit van ons gemeenskap met God moet die bron van ons blydskap wees.

Ja, ons liggaam en hierdie aardse woning is verganklik in teenstelling met die vaste gebou in die hemel wat God vir ons gereed maak. As gelowiges is ons op pad huis toe om met ’n verheerlikte opstandingsliggaam by Christus te wees.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.