Gedagte vir die dag: Vir wat wag jy?      

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Staan op, tel jou goed op en loop. (Johannes 5:8)

Terwyl Jesus na ’n Joodse fees toe op pad is, gaan Hy verby die bad van Betesda waar ’n groot menigte siekes gelê het.

En hulle het gewag … vir die roering van die water, en sommige was teleurgesteld. Ons almal wag vir iets, wag vir ons skip om in te kom, wag vir beter dae. Ons is baie geneig om na ander se vooruitgang te kyk, soms jaloers te word daarop. Baie keer word ons teleurgestel in mense.

Maar Jesus loop verby al die mense en gaan staan by ’n naamlose persoon en vra: Wil jy gesond word?

Is daar tye wat jy naamloos voel? Tye wanneer jy voel: Wie is ek? Waarheen is ek op pad? Jesus kom staan by jou, want Hy kies jou. Jesus sien die potensiaal in jou raak, die potensiaal wat jy en ander miskyk. En Hy sê vandag vir jou: Staan op, neem jou bed op, en loop. Jesus dra nie die man tot by die water nie, Jesus vra nie ander om hom te dra nie. Jesus gee hom ’n kans om weer te begin. Wat Jesus vir die man sê, is dit: Kom van jou gemaksone af weg, werk deur jou seer en teleurstellings, hou op verskoning maak om in oorwinning te loop, hou op om terug te kyk na al jou foute en skaamte, en staan op!

As jy van jou gemaksone af wegbeweeg, gaan jy uitdagings trotseer, die onbekende trotseer, jou vrese trotseer. Styg bo jou omstandighede uit.

Vader, U weet dit is vir my moeilik om my gemaksone te verlaat, maar ek kies vandag om te luister en op te staan. Ek weet my pad gaan vol uitdagings wees, maar ek weet dat U potensiaal in my sien, en daarom kan ek alles oorbrug wat my pad langs kom. Dankie dat U by my kom staan, en dat ek nie naamloos is nie. U ken my by die naam, en U weet waarheen ek op pad is. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.