Vlog vol waarheid: ʼn Lewe vol guns

Mauritz Zietsman (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Spreuke 8:35 NLV – Hy wat my kry, kry die lewe self. Hy geniet die guns van die Here.

Ek weet nie van jou nie, maar toe ek op skool was, kon ek net nooit myself sover kry om van mense te hou wat ek gedink het voorgetrek word by die skool of op die sportveld nie.

Om heeltemal eerlik te wees, het ek altyd binne my gewens dat hierdie mense net verwyder moet word omdat ek werklik in my hart geglo het hulle sal nooit weet hoe dit voel om soos “normale mense” hanteer te word nie. Ek en my vriende het altyd gespot en gesê dat hierdie einste jong mense se ouers seker nou weer die skool se lapa geborg of iets spesiaals gedoen het vir die skool dat hul kinders soos konings hanteer moet word.

Nou toe nou, dit daar gelaat. Die waarheid is, ons almal was iewers in ons lewe dalk al aan die ontvangkant van “guns” wat na ons kant toe gekom het, sonder dat ons regtig iets gedoen het om dit te verdien. Jy dink dalk jy is nooit aan die ontvangkant van sulke “gunste” nie, maar ons is dikwels geneig om die goed net mis te kyk.

Het iemand jou al plek gegee voor in die ry by die snoepie, maar jy was nie noodwendig eerste daar nie? Of het jy al ekstra tyd gekry vir ʼn taak wat eintlik verlede week moes in wees? Of het jy al vroeër uitgekom vir skool net omdat jy ʼn sekere sportsoort beoefen?

Ek kan natuurlik talle voorbeelde noem van onverdiende guns wat ons soms ontvang, maar die werklikheid is dat ons dikwels regeer word deur “guns” by mense. Ons hou van die idee om dinge te bereik in ons lewe met die mins moontlike moeite, vermoë, aandag of tyd wat ingesit word. Ons glo dikwels dat ons nogal ver sal kan kom met die “kontakte” wat ons het, en herhaal ewe trots die gesegde: “Dis nie wat jy ken nie, dis wié jy ken.”

Die harde waarheid is, solank ons “guns” by mense of plekke gaan soek, gaan ons dit net by mense en plekke kry. En dan sal ons tog maar steeds nie tevrede wees met die uitkoms nie.

Bogenoemde skrifgedeelte rig ʼn uitnodiging aan ons vanuit wysheid se perspektief, dat ware lewe net by die Here gevind kan word en dat geen guns in die wêreld die guns wat die Here vir ʼn mens gee, sal kan klop nie. Hierdie soort guns verwys nie noodwendig na ʼn aardse guns nie, maar die soort guns waarin ons God tevrede kan stel met ons lewe. Dit klink vir my beslis na iets om voor te leef, veral as ek ewigheidswaarde in gedagte hou.

Ons leef nie net vir nou nie, ons moet eintlik leef vir die wêreld ná hierdie een, en daarom sal ek met ʼn opregte hart kan sê dat ek veel eerder vir die Here se guns sou wou leef as vir guns in mense se oë.

Daarmee wil ek jou hierdie week uitdaag om te bid oor jou lewe en toekoms. Streef daarna om in alle terreine van jou lewe eerder die guns van God na te jaag, as die guns van mense. Mense se guns is net tydelik, maar die Here se guns is vir altyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.