Vlog vol waarheid: Pasop dat ander jou besluite bepaal

Mauritz Zietsman (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

1 Korintiërs 3:3: “Want julle word nog steeds deur wêreld se neigings beheer. Julle is jaloers op mekaar en maak rusie. Is dit nie ʼn bewys dat julle nog deur wêreldse neigings oorheers word nie? Julle tree op soos mense wat nie aan die Here behoort nie.”

Die bostaande teks kan nogal hard voorkom, maar dié Skrifgedeelte moet binne konteks gelees word.

Kom ek skep vir jou ʼn bietjie agtergrond hieroor. Paulus praat hier met die Korintiese kerk wat nie te lank terug nie die evangelie aanvaar het en hulle harte vir die Here gegee het. Paulus spreek hulle oor hierdie saak toe omdat hulle nog deur mense en wêreldse neigings regeer en beheer word. Paulus het gesukkel om met hulle die waarheid te deel, want hulle was nog te gefokus op wat rondom hulle aangaan in die wêreld en in ander mense se lewens.

Dink ʼn bietjie aan hierdie stuk en vergelyk dit met die huidige stand van sake in ons land en die res van die wêreld. Lyk dit verskillend? Of lyk dit presies dieselfde as die Korintiese kerk waarmee Paulus gepraat het?

Die realiteit is dat ons vandag met dieselfde uitdagings sit as waarmee hulle gesit het. Ons is geneig om te swig onder groepsdruk, ons is toenemend bekommerd oor wat mense van ons dink (die era van sosiale media!) en ons luister graag eerder vir mense wat status het as om te luister na wat God van ons dink en wat Hy wil hê ons moet doen. Nie waar nie?

Ek was presies in hierdie situasie vroeër in my lewe. Ek het gereeld geswig onder groepsdruk en was meer geneig om na die “cool” vriend in die groep te luister as om vir God se leiding te wag. Eers nadat ek ʼn paar keer my kop hard gestamp het, het ek besef dat dit beter is om na die Here se stem te luister as om mense tevrede te stel en dan iets te doen waaroor jy later net spyt gaan wees.

Ek wil jou vandag uitdaag om ʼn bietjie introspeksie te doen na wat in jou hart aangaan. Vra jouself af, aan watter kant van die draad staan ek? Staan ek aan die kant waar dit vir my belangriker is om “cool” te lyk in ander mense se oë, of staan ek aan die kant wat eerder vir God wil eer met my hele lewe.

Dit is nie ʼn maklike vraag nie, maar net jy kan met jouself eerlik wees oor wat jou besluite en aksies dryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Joa ·

Ja-nee, wereldse neigings is lankal nie meer deel van my lewe nie. Ek maak staat op Onse Hemelse Vader vir alles in my lewe want Hy het my nog nooit terleur gestel nie. Hy is elke sekonde van my lewe saammet my en ek is ‘n baie gelukkige mens dat Hy my aanvaar het as Sy kind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.