Vlog vol waarheid: Vasgevang in aardse sondes

Romeine 6:12 – “Julle moet dus nie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie.”

Daar was eens ʼn tong-in-die-kies gesegde: “As sonde nie lekker is nie, dan doen jy dit heel waarskynlik nie reg nie.”

Dié gesegde is gewoonlik gesê deur die ou langs die braai met die sigaret in die een hand en die dop in die ander. Terwyl dit sekerlik ʼn gesegde is wat veronderstel is om snaaks te wees, steek daar eintlik baie waarheid daarin.

Dit was vir my soms die lekkerste om iets by die skool te doen as daardie iets in oortreding van die skool se reëls is. Ek het gereeld reëls oortree deur klasse te bank, nie my huiswerk te doen nie, laat op te daag by die klas, ekstra bestanddele te steel in die gasvryheidsklas op kookdag en so nou en dan af te kyk by my vriendin as ons toets skryf. Maar wat dit nog lekkerder gemaak het, was as ek nie uitgevang is vir enige van hierdie oortredings nie.

Jy mag dalk nou dink, dis nie so erg nie. Alle jong mense begaan minstens een van bogenoemde stoutighede iewers in hul skoolloopbaan. Terwyl dit waarskynlik waar is, besef ons dikwels nie dat dit moontlik kan lei tot dieper lokvalle later in die pad nie.

Ek het net nou die dag met ʼn jong man gepraat wat al langer as twee jaar vir ʼn baie bekende maatskappy werk, maar wat afgedank is nadat hy plagiaat vir agt maande gepleeg en dit op die lappe gekom het. Kom ek verduidelik, hy moes vir die maatskappy se koerant wat maandeliks verskyn ʼn interessante artikel skryf vir die mense wat in die maatskappy werk, om hulle ʼn bietjie op te kikker en aan te moedig in hul werk. Hy is dan betaal per woord wat in die nuusberig verskyn as beloning vir sy moeite en tyd.

Mauritz Zietsman (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Vir die eerste paar maande het hy self die artikels geskryf tot hy agtergekom het dat ʼn maatskappy oorsee ʼn soortgelyke ding doen by daardie maatskappy. Hy het toe “slim” geraak en daardie artikel van die maatskappy oorsee net so gevat en dit in sy eie maatskappy se koerant geplaas. Eers in die agtste maand het sy baas dit agtergekom nadat daar vreemde statistieke in een van die artikels verskyn het en die baas toe net op die internet wou seker maak oor die statistieke.

Dit was toe dat die baas afkom op die ander maatskappy se artikels wat hierdie einste persoon in sy maatskappy net so in hul koerant gevat en herbruik het. Die jong man is natuurlik nog deurentyd ekstra betaal vir die artikels, maar het nou hierdie geld ontvang sonder om enige moeite in te sit. En toe skiet hy homself netjies in die voet.

Hoekom vertel ek jou hierdie storie? Want sonde begin altyd by iets so klein en eenvoudig soos om een keer iemand in te loop, net iets kleins te steel, ʼn vinnige “trek” te vat van ʼn sigaret, een keer dronk te word, net een keer met ʼn meisie of ou te slaap voor die huwelik, of net een keer dagga te gebruik.

Kom ek wees doodeerlik met julle: Dis al geleentheid wat die duiwel nodig het om jou vir die res van jou lewe aan daardie sonde te bind. Net een keer.

As jy een keer geval het vir ʼn spesifieke sonde, is die volgende keer soveel makliker om in te gee. Voor jy jou kom kry, is jy verslaaf aan daardie sonde.

Vandag se skrifgedeelte sê baie spesifiek dat ons nie langer moet toelaat dat sonde ons aardse lewe beheer nie, en dat ons nie moet toegee aan sy verleidelike begeertes nie. Ek wil jou hierdie week uitdaag om jou hele lewe neer te lê voor die Here en sensitief te wees vir sy stem wanneer Hy jou wil waarsku oor gevaarterreine in jou eie lewe wat sonde betref. Dink ʼn bietjie na oor hierdie skrifgedeelte en vra die Here om dit in jou hart vas te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maria ·

Ek hou van jou eerlik en waarheid dit een rede en n antwoord op elke persoon wat vas gevange in die verskilllend soort sonde soosn wortel wat skiet raak erger dan stukkel persoon om uit te kom uit die geeslik dood so raak erger AS jy nie OPHOU nie. Ek erken en ek was self daardeur en skuldig. Woord as jy slegte te goed saai aan jy selgte goed maai en daarom gaan dit sleg met persoon gaan gaan doen self ondersoek en persoonse eie skuld want jy het n keuse.

Saintjordaan ·

Ag tog so sondebewus…
Doen eerder wat die Skrif lees…
1 Aanbid die een ware God Mark 12:29-34, Ef 4:6
2 verstaan jou posisie as die geregtigheid van God in Christus. 2 Kor 5:21…die kruis was immers suksesvol..
3 hoor die ware evangelie van die God aangestelde 5 voud Ef 4:11-13, 2 Kor 4:4-6;
4 Kom na die aangestelde van die dag (God werk nog altyd net deur een man) Joh 6:29, 45;
5 want die aangestelde sal wees die weg, waarheid en lewe na die Vader toe..Joh 14:6, en geloof in die aangestelde sal groter werke bring…Joh 14:12…
Wie sal die Skrif begin glo?

Stephan de S ·

Dis interessant dat jy Rom 6 aanhaal sonder die oplossing van Rom 8….spesifiek verse 1-4 en veral v 13.
Op jou manier gaan mense net meer en meer vasgevang raak in die sondepatroon. Jy druk hulle om nog harder te probeer in hul eie krag sonder die Gees( v.13 Gal 5:16 en 6:8) Dis n bittere onreg teenoor gelowiges.

Z ·

Insiggewend. Dankie vir die waarheid.
Ons moet altyd n leerbare gees hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.