Vlog vol waarheid: Wanneer geld jou god word

Spreuke 3:14 NLV – “Wysheid het meer voordele as geld. Haar beloning is meer werd as goud.”

1 Timoteus 6:10 NLV – “Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor.”

Geld kan beslis baie nuttig te pas kom, maar kan net so vinnig ʼn afgod in ons lewens raak.

Dit was nog altyd vir my interessant om te gaan kyk na bekende sangers en rolprentsterre se verlede, voordat hulle bekend en skatryk geword het. Om te sien hoe hulle was en hoe hulle opgetree het voor miljoene mense hulle geken het.

Kom ons neem Justin Bieber as ʼn voorbeeld. ʼn Doodgewone Kanadese kind wat in ʼn doodgewone gesin groot geword het. Hy was lief vir die Here en kon baie mooi sing. Hy het gereeld sy familie vermaak by kuiers en niemand kon stry dat hy ʼn uitsonderlike talent het nie. Eendag is daar ʼn video van hom wat sing geneem en die jong kind was oornag ʼn YouTube-sensasie.

Binnekort was hy op die trefferparades van die wêreld se grootste radiostasies en die koeël was deur die kerk. Die doodgewone Kanadese kind was een van die grootste popsterre ter wêreld.

Mauritz Zietsman (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Daar is heel waarskynlik vandag nie baie mense wat nié weet wie Justin Bieber is nie. Maar hier is die kruks van die storie. Dit het nie lank gevat voor daardie miljoene dollar na sy kop toe gegaan het nie. Kort voor lank was daar talle jong meisies wat aan sy lippe gehang het, die mooiste huise en hotelle waarin hy woon, vele luukse motors om mee te spog, spandabelrige inkopietogte en aanbiedinge van borge wat instroom.

Julle almal weet wat die uiteinde hiervan was – hy het geval vir die geld en roem en sy reputasie en geestelike gesondheid moes die prys betaal.

Dis nou maklik om oor Justin Bieber te praat wat in ʼn hele ander leefwêreld as ons bestaan, maar het jy aan jou eie lewe miskien gedink soos ek hierdie storie oor hom vertel het? Wat as jy in presies dieselfde situasie was en ewe skielik baie geld begin verdien het? Sou jy nie waarskynlik ook gevou het en geval het vir wat die wêreld jou bied nie?

Dis baie moeilik om hierdie vraag te beantwoord as ons nog nie regtig ooit in so situasie was nie. Maar hier is die ware realiteit: Die beginsels van die twee bogenoemde Skrifgedeeltes bly absoluut nog relevant op ons lewens en sal altyd bly.

Die eerste Skrifgedeelte verwys na wysheid wat meer voordele het as geld en as jy Salomo se storie ken sal jy definitief verstaan hoekom hy so sê. Hy het baie meer gehad as net geld. Die tweede Skrifgedeelte verwys na “die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad”. Eenvoudig gestel, as ons begin om geld meer lief te hê as wat ons God liefhet, sit ons die pot heeltemal mis. Want saam met liefde vir geld, kom trots, hoogmoed en arrogansie.

Die riglyne in die Skrifgedeeltes hierbo sê nie dat geld die probleem is nie, maar wel die liefde vir geld. Ek wil jou uitdaag om hierdie week bietjie introspeksie te doen en te bepaal of jy geld moontlik meer lief het as God self. As die antwoord dalk ja is, sit by God se voete en vra Hom of Hy jou sal help om nie in die toekoms as jy werk met hierdie probleem te sit nie. Dit mag dalk jou hele lewe bederf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jozi ·

Ja nê?
Ek ken ‘n man wat ook sy geld god en aardse besittings bo alles plaas.
Dis al wat hy het, maar hy is te dom om te besef hy is eintlik brandarm.
Sy gesin, sy eie kinders, in die proses verloor.
Ek glo hy voel ongelooflik goed oor die lewe
wanneer hy na werk by sy leë huis instap en daar is niemand nie.

Spook ·

Eintlik wil hul vra gee dit eerder vir die kerk- vir oom dominee of pastor wat vir niksdoen ruim verged wil word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.