U is my krag en my skuilplek, my veilige vesting en my redder, my beskermer by wie ek skuil. (Psalm 144:2)
Vlug word soms geassosieer met lafhartigheid en soms met wysheid, maar weinig indien ooit met oorwinning. Dis net hier waar ’n mens jou lekker misgis! Die groot ste geestelike oorwinnings begin met ’n vlug en nie met ’n geveg nie. Paulus vermaan gelowiges dat hulle moet vlug ten einde te wen: “Vlug vir die hoerery” (1 Kor 6:18, Bybel in Afrikaans 1933/1953), “vlug vir die afgodediens” (10:14, Bybel in Afrikaans 1933/1953), “jy, man van God, moet van hierdie dinge [geldgierigheid] af wegvlug” (1 Tim 6:11) en “vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid” (2 Tim 2:22, Bybel in Afrikaans 1933/1953). Om van ongeregtigheid weg te hardloop is egter net ’n gedeelte van die oorwinning.
Die volledige oorwinning kom deur die plek waarheen ons vlug. Dawid skryf in ons Bybelteks vandag dat God die Een is by wie hy wegkruip. Dis waar die oorwinning vandaan kom. Dis nie ek wat myself verander of beskerm nie, maar Jesus. Dis nie ek wat so goed veg wat my vyande afweer nie, maar my vlugvermoë.
Hier volg ’n belangrike waarheid: Elke keer wanneer ek na Jesus toe vlug, vlug ek weg van ongeregtigheid, maar om bloot net daarvan weg te hardloop beteken nog nie noodwendig dat dit na Jesus toe is nie. Ek het al dikwels van ongeregtigheid weg gehardloop, net om daardeur ingehaal en oorkom te word. Die rede? Ek het gevlug, maar nie na Jesus toe nie. Dis die een plek waar ek vir seker veilig en vry kan wees. In hierdie wêreld sal ongeregtigheid ’n mens altyd inhaal waar jy ook al is, tensy jy by Jesus wegkruip.