Gedagte vir die dag: Vlug!

arms_uitgestrek_berg_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. (Psalm 139:7-8)

“Vlug” is ’n interessante woord. Dis beide ’n positiewe en negatiewe woord. Vlug word soms geassosieer met lafhartigheid en soms met wysheid, maar selde met oorwinning. Tog is dit iets wat ons almal omtrent elke dag doen. Soms vlug ons van verantwoordelikhede, soms van vrese, soms van een saamheid en soms van die oorweldigende bondel wasgoed in die wasgoed mandjie. Soms vlug ons die land uit of die dorp uit of net straataf. Ons vlug winkels toe, yskas toe, drank toe, seksuele fantasieë toe, sport toe, pêlle toe, dwelms toe, werk toe, kerk toe …

Basies kan ons enige plek heen vlug. Dis ironies, maar ons vlug die minste na Jesus toe. Dis die beste plek, maar nie baie hoog op ons vluglyste nie Baie mense kies die arms van Jesus slegs as daar geen ander vlugopsie oor is nie. Die arms van Jesus is die plek waar ek sê: “Here, ek kan nie meer nie! Ek het geen ander bestemming om heen te vlug nie behalwe na u arms toe! Red my, Here! Hou my veilig …”

Hoekom vlug ons nie so geredelik na Jesus se arms toe nie? Kan dit wees om dat dit nie vir ons so ’n werklikheid is nie? Daar is dalk meer onmiddellike verligting van spanning en probleme wanneer jy ’n toebroodjie maak as wanneer jy tot Jesus bid. Is dit hoekom baie gelowiges in byna onbeheersde paniek verval wanneer ’n krisis hulle tref omdat Jesus se arms vir hulle net in teorie en preke bestaan, maar nie in die harde werklikheid van die lewe nie? Al is dit moeilik, glo dat Jesus in beheer is wanneer jy nie meer is nie.

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lena Jonk ·

Ja ons God se Genade is onbeskryflik groot, ek kan daarvan getuig. Ek het tyd lank gesukkel met gesondheid, toe op stadium waar ek nie meer kon aangaan, dit was n Sondagaand, het my kleindogter gevra om my maar hosp toe te vat. Op pad het ek gevra: Here ek kan nie meer nie, dra my asb hierdeur. Ek is dadelik opgeneem soos beveel deur dr aan diens, volgende dag uroloog my kom sien toe kom onkoloog daarna, om lang storie kort te maak na baie verskillende toetse is besluit vir operasie na n week. Uiteinde gewas oor ingewande , kwaadaardig, moes toe na 2weke in hosp onkoloog gaan sien. Hy se geen bestraling of chemo nodig nie alles reg, SO HET MY VERTROUE IN MY GOD MY DEURGEDRA.

Dries ·

Jesus is ons enigste bron van toevlug, by Hom is ons volkome veilig, selfs al moet ons deur die dal van doodskaduwee beweeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.