Gedagte vir die dag: Voel jy geestelik afgestomp?

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. (Jesaja 11:1-2)

Voel dit vir jou of jou gebede teen die plafon vasslaan en jou verhouding met God gestagneer het? Voel jy geestelik afgestomp? Ek het goeie nuus vir jou: God kan ’n wonderwerk in jou lewe laat plaasvind, Hy kan jou herskep en jou totaal nuut maak. Hy blaas nuwe lewe in ’n dooie verhouding en laat jou weer geestelik groei en vrugte dra.

Ek glo in die krag van gebed en daarom neem ek elke behoefte wat ek het eerste na God. As dit vir jou voel of jou verhouding met God gestagneer het en jy ’n behoefte het om geestelik te groei is ’n eenvoudige gebed, waar jy God vra dat jy geestelik van krag tot krag wil gaan, ’n goeie plek om te begin. Daar staan immers in sy Woord dat dit Hy is wat ons denke en hart vernuwe en die goeie werk wat Hy in ons begin het, enduit sal voer.

Geestelike groei is ’n reis wat ons saam met die lewende God aanpak en dit begin met ’n gebed. Ek glo as ons hieroor gebid het, sal God deur sy Gees die behoefte om Hom beter te leer ken en om tyd saam met Hom deur te bring in ons hart laat ontspring. Hoe beter ons God ken en hoe meer tyd ons saam met Hom deurbring hoe sterker raak ons geestelik. As jy smag na ’n dieper verhouding met God, belê dan tyd in hierdie verhouding.

Dit is die Gees van God wat ons hier op aarde vir ons lewenstaak toerus. Ons ontvang van God wysheid en insig, raad en sterkte, kennis om die regte dinge te doen en bowe al ’n lewende verhouding met die Here.

Vra God nou dat jy Hom tasbaar deur sy Heilige Gees wil beleef, vertel Hom hoe jy smag na ’n lewende verhouding met Hom. Daar staan in sy Woord: As jy Hom soek sal jy Hom vind.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.