Gedagte vir die dag: Voel saam

Argieffoto

Argieffoto

Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. (Romeine 12:15)

Die warmte van God se genadige liefde hou ons aan die lewe as ons treur, dit hou ons regop as ons langs die siekbed van ’n geliefde of by ’n oop graf staan. Ons wil en sal weer wen, maar daar kom dae dat ons treur en nie eensklaps getroos kan word nie. Ook daarvoor het ons Hemelse Vader begrip. Dis dan wanneer jy as mens ’n skouer soek om op te huil – iemand wat verstaan, ’n broer of suster, ’n vriend of vriendin wat by jou kom sit soos Job se vriende. Sy vriende het – met al hul foute – soveel vir hom omgegee dat elkeen van sy eie woonplek af gekom het om hom te troos.

Toe hulle hom sien, het hulle hom nie herken nie en was so geskok dat hulle hardop gehuil en hul klere geskeur het. ‘Sewe dae en sewe nagte lank het hulle op die grond by hom gesit sonder om ’n woord met hom te praat, want hulle het gesien dat sy smart baie groot is’ (Job 2:13).

Miskien is jou nabyheid al wat nodig is. Dis toe sy vriende begin praat het dat hulle Job se smart vererger het. Luister, maar tel jou woorde. Moenie te hard probeer om iemand wat ongelukkig is op te beur nie. Salomo het al gesê: ‘Iemand wat jou klere van jou afvat op ’n koue dag, of asyn op bytsoda, so is iemand wat vir jou liedjies sing as jy treurig voel’ (Spr 25:20).

Aan die ander kant is daar niks wat die hart warmer maak as ’n vriend of vriendin wat saam met jou bly is nie. Opregte belangstelling en gelukwensings maak jou net so gelukkig as die prestasie self. Onthou verjaardae en belangrike mylpale, ook van kinders. ’n Telefoonoproep, ’n besoek of ’n geskenkie om ’n doopdag, troudag of gradedag te herdenk is alles tekens van liefde en toegeneentheid.

Hemelse Vader, dankie dat ons hartseer oortref word deur die lewensvreugde wat ons deel.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.