Gedagte vir die dag: Voëlgesang

Foto: pixabay.com

Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies. (Matt 10:31)

Die beste oggende is daardie vroegmôres wanneer jy sien hoe ’n nuwe dag deur die nag se duister breek. Wanneer jy vroeg genoeg is om die kleure te sien en te sien hoe dit voortdurend verander. En wanneer jy stil genoeg is om die voëltjies te hoor sing.

Die vrolike voëltjiedeuntjies is dikwels genoeg om ’n mens se dag in die regte rigting te stuur. Dit bons jou verbeelding behoorlik aan die gang, sodat jy jou kan verbeel dat hul liedjies woorde het: “Môre-môrewat-’n-mooie-dag!” sing die een. Dan kwetter nog een dit uit: “Prys-die-Heer-vir-’n-nuwe-dag! Prys-sy-Naam!” ’n Piepklein geveerde antwoord: “Kyk-daar-kom-Oupa-Son! Kyk-daar-kom-Oupa-Son!”

Dit gebeur egter nie elke oggend nie. Ons hoor nie altyd hoe die voëltjies sing nie; daarvoor hou die lewe ons te besig. Té veel dinge moet té vinnig gebeur. Alles moet gou afgehandel word sodat die volgende taak of afspraak of verpligting aangepak kan word.

Maar die feit dat ons hulle nie hoor nie, beteken nie dat die voëltjies opgehou het om vroeg smôrens te sing nie. Ons gevlerkte vriende begroet élke nuwe dag met hul vrolike fluite en opgewekte klanke. Of ons ons nou daaraan steur of nie.

In Matteus 10 bring Jesus ons dié goeie nuus oor ons Vader: Hy vertel eers van twee mossies wat maar ’n sent kos, en hoe nie een mossie op die grond sal val sonder ons Vader se wil nie. Dan bemoedig Hy ons só: “Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies” (Matt 10:31).

Wanneer ek ’n slag weer die vrolikheid van voëltjies beleef, onthou ek hierdie stuk evangelie. Ek word opnuut daaraan herinner dat God van elke kwetterende liedjie weet, van elke vlerkfladdering en van ál die vrolike gesange wat die dagbreek begroet.

Ek besef ook dat God weet van elke gedagte en fladdering en vreugde in ons hart. Hy is ons Vader in wie se hand ons toegevou is. Dis ’n heerlike feit dat Hy omgee en ons intens liefhet. En dit sal ’n feit blý, elke dag in elke seisoen van ons lewe. Of ons ons nou daaraan steur of nie.

Dankie Here, dat U ’n goeie Vader is wat my ken en vir my omgee.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.