Gedagte vir die dag: Voete van vrede   

voetspore_woestyn_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. (Filippense 4:7)

Soms kan ons vir onsself lieg, veral as mense ons seermaak, maar God ken ons harte en bedoelings. Wanneer ons bid en bieg oor ons swakhede, sal Hy ons vergewe en ons denke verander en vernuwe. Dis Hy wat help dat ons die verlede kan begrawe. Hy het ons lief in al ons gebrokenheid net soos ons is, onvoorwaardelik en sonder verwyte, sonder ’n maar.

Swaarkry versterk ’n mens se geloof, al voel dit nie altyd so nie. Dis juis wanneer die nood druk dat die meeste van ons ons knieë buig, en daarom is die loon van ons swaarkry goed. Daar is niks so salig soos die vrede wat in ’n mens kom rus ná ’n tydperk van swaarkry nie. Wanneer swaarkry ons by God uitbring, het ons die stryd tweederdes gewen. Wanneer jou swaarkry ’n getuienis word vir die wêreld en ander aanmoedig en hoop gee in hulle situasies en omstandighede, het ons die volle stryd gewen. Dis wanneer ons kan terugkyk en sê: Dalk was dit die moeite werd.

Wanneer ons bid, moet ons vir God vra dat Hy ons sal help om na ander mense te kyk deur die oë van Jesus, sodat ons ook hulle seer kan raaksien en verstaan. Daar is goedheid in almal en ons moet dit raaksien, die klein jakkalsies vergewe en vergeet. Ons moet mekaar se laste dra, ander dien met ons gawes, in liefde vir mekaar gee en omgee, vir ander ’n seën wees. Liefde vir God is om jou naaste lief te hê, want daar waar die Gees van God is, sal daar liefde wees en ook voete van vrede.

Hemelse Vader, beklee ons met genade tot u diens en diensbaarheid tot ander. In Jesus se Naam. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eileen Wessels ·

My man het deur afleggings sy werk verloor. Ewige skielik staar mens onsekerheid in die gesig. Daardie inkomste is weg maar verpligting teenoor jou maandlikse uitgawes is nog daar. Maar dankbaar dat daar uitkoms is, want hy weet van werk. Hy weet om nie te gaan le nie. Ja, daar is swaar dae, en juis die “woord van die dag” stel dit so mooi. Dis wanneer ons ons kniee buig. Want ons dien Grote God wat ons wil gebruik as getuienis vir ander wat ook geraak word deur die omstandighede waarin ons moet leef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.