Gedagte vir die dag: Volg die Herder

 skape_landskap_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder offer sy lewe op vir die skape. ’n Kontrakwerker is hoegenaamd nie ’n herder nie, want dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien aankom, los hy die skape net daar en vlug weg en die wolf vang die skape en verwilder hulle. (Johannes 10:11-12)

Die verskil tussen herders en huurlinge is baie eenvoudig: Herders werk vir hul erfenis, terwyl huurlinge vir hul dagloon werk. Herders kyk nie op hul horlosies nie; hulle maak seker hul skape het kos en is gemaklik. As die skape in die middel van die nag lam, sal die herders daar wees om hulle te help.

Huurlinge is bloot daar vir hulle eie belang. Hulle is nie toegewy aan die trop nie. Hulle gee nie regtig om of dit goed gaan met die trop of nie, want solank hulle net hul werk doen, sal hulle hul loon kry. Goeie herders sal egter hul lewens vir hulle skape gee.

Jesus is ons Herder. Ons het dalk mense in ons vriendekring wat vir ons omgee, maar het jy al agtergekom dat daardie mense dikwels onttrek sodra dinge begin moeilik raak? Die oomblik wat jy hulp nodig het, is daardie mense skoonveld.

Ons Herder, die Seun van God, sal tot aan die ander kant met jou saamstap. Hy sal sy bes doen om jou te help en jou deur te sien. Die Here is heeltemal toegewy aan my en jou en daarom moet ons die lewe nóg meer geniet.

Jesus het gekom om vir ons ’n lewe propvol seëninge te gee. Begin dus moeite doen om die Herder te dien en dit nie as ’n huurling te doen nie. In die Midde-Ooste het die herders altyd in die opening van die kraal gaan lê omdat daar nie hekke was nie. As daar enige roofdiere was wat die skape wou opvreet, moes hulle eers verby die herder kom. As jy seergemaak is, sal Jesus jou verpleeg en herstel. As jy die verkeerde pad geneem en verdwaal het, sal Hy jou vind en jou terugbring.

Ek wil jou aanmoedig om in God te begin belê. Jesus het sy lewe vir jou neergelê. Stel jou hoop en vertroue in Hom en Hy sal jou deurhelp.

Dierbare Jesus, ek wil hê U moet my Herder wees. Dankie dat U omgee vir my, een van u skape. Van vandag af stel ek my vertroue in U. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.