Gedagte vir die dag: Volg sy voorbeeld

skape_lammers_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

As herders moet julle die kudde van God goed oppas; hulle is aan julle toevertrou. Moenie baasspeel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar stel die voorbeeld vir die kudde. (1 Petrus 5:2-3)

Baie jare terug toe ek my landbou-opleiding in Skotland ontvang het, sou ek naweke na my oom Ronnie toe gaan. Hy het werklik ’n hart vir mense gehad en hy was ’n goeie herder. Hy het vyf of ses kolliehonde gehad; hierdie honde sou enigiets vir hom doen, want hulle was baie lief vir hom. Selfs al was hy uiters streng met hulle, was hy regtig baie lief vir hulle. Trouens, hierdie honde was die rede hoekom hy so baie werk gehad het. Hy was baie gesog by die boere as gevolg van sy vermoë om groot skaapkuddes te beheer. Dit was alles as gevolg van sy honde.

My oom sou babahondjies kry, hulle oplei en dan aan ander mense verkoop. Dit het egter nie goed gewerk nie, want die honde sou nie na hulle nuwe base luister nie. Hy sou dikwels maar die geld vir die mense teruggee, want die honde het net vir hom geluister.

Ek en jy kan mense nie dwing om na ons Herder, Jesus Christus, te luister nie. Al wat ons kan doen, is om hulle lief te hê sodat hulle gewillig sal wees om self na Hom toe te kom. Gaan vandag in die wêreld in en wees ’n voorbeeld vir ander hoe die lewe van ’n gelowige moet lyk.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.