Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. (Heb 10:36)
Lees Hebreërs 10:32-39
Daar is ’n mooi verhaaltjie van ’n slak wat op ’n koue wintersdag teen ’n appelboom begin uitklim. Terwyl hy teen die stam opseil, steek ’n wurm sy kop by ’n gaatjie in die bas uit. “Jy mors jou tyd, daar is nie ’n enkele appel daarbo nie,” sê hy. “Teen die tyd dat ek daar kom, sal daar wees,” antwoord die slak. Volharding beteken dat jy bereid sal wees om enduit vol te hou, ten spyte van jou omstandighede.
Op ’n hele paar plekke in die Bybel word gelowiges aangeraai om te volhard. In Matteus 10:22 waarsku Jesus sy volgelinge teen die vervolging wat vir hulle voorlê, maar Hy belowe terselfdertyd: “Wie tot die einde toe volhard, sal gered word.” Jakobus skryf: “Soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming” (1:3-4).
Gewoonlik is dit juis swaarkry wat volharding kweek, en die toets van volharding kom gewoonlik wanneer dinge vir jou verkeerd loop. Met God se krag tot jou beskikking sal Hy dit egter vir jou moontlik maak om tot die einde toe te volhard sodat jy God se wil sal doen en dié dinge sal ontvang wat Hy beloof het.
Hemelse Vader, ek bid dat U my self sal help om enduit vol te hou, om te volhard totdat elkeen van u beloftes vir my waar geword het en ek die hemelse prys wat U beloof het in ontvangs kan neem. Amen