Gedagte vir die dag: Volharding

hardloop_atleet_sonsopkoms.jpgHou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. (Heb 12:3)

In Hebreërs 12:1-3 word die leser na die baan gebring waar atlete aantree vir ’n maratonwedloop. Hulle sien hoedat die atlete alles uittrek wat moontlik hulle vordering in die wiele kan ry. Alle laste word afgelê. En ’n skare mense moedig hulle aan, almal mense wat alreeds die wedloop suksesvol voltooi het. En dan maak die Hebreërskrywer die toepassing: ons as kinders van die Here is deelnemers aan ’n geloofsmaraton. Ons moet ook alles aflê wat ons dalk kan hinder, veral die sonde wat so ’n neerdrukkende las kan wees. Die geloofsgetuies vanuit die Ou Testament word voorgehou as die skare toeskouers wat ons aanmoedig en wat reeds vir ons ’n voorbeeld van volharding gestel het. En dan is daar die Een wat meer as ’n toeskouer is, die Een wat enersyds reeds die wedloop met volharding voltooi het, maar die Een wat ook saam met ons in die wedloop hardloop.

Kom ons kyk heel eerste na Jesus wat volhard het. Vandat Hy sy bediening begin het, was Hy in ’n hinderniswedloop betrokke. Satan het op verskeie maniere probeer om Hom uit die pad te kry. Hy moes mense se teenstand oorkom. Hy moes uiteindelik ’n kruisweg met ’n doringkroon en voosgeslaande liggaam uitstrompel. En die wenstreep was ’n kruis waar Hy sy lewe gegee het vir ’n verloregaande wêreld. Hy het tot die einde volhard.

Ons wedloop is nie naastenby so uitmergelend soos wat Syne was nie. En wat meer is, ons is nie alleen in die wedloop nie. Jesus het sy Gees gestuur om elke oomblik by ons te wees. Hy moedig ons nie alleen aan nie, maar Hy versterk ons in ons geloof.

Volhard! Jesus wag vir jou, en die Heilige Gees ondersteun jou.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.