Gedagte vir die dag: Volkome blydskap

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

‘Maar nou kom ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê.’ (Johannes 17: 13)

Jesus het die nag voor Hy gevange geneem is vir sy dissipels gebid en sy Vader gevra om hulle te bewaar soos Hy hulle in sy Naam bewaar het. Net een het verlore gegaan sodat die Skrif vervul kon word. Die ander sou sonder Hom agterbly, maar Hy het hulle met die waarheid bemagtig en in die wêreld uitgestuur – nie sonder die belofte van sy blydskap wat hulle in al sy volheid sou ontvang nie. Sy blydskap is ver bo aardse blydskap en hulle sou dit nodig kry in die wêreld waar hulle gehaat en deur die Bose aangeval sou word, om­dat hulle nie aan die wêreld behoort het nie.

‘Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waar­heid’ (Joh 17:17).

Dit het Jesus vir sy dissipels gebid en ook vir dié wat deur hul woorde tot geloof sou kom. Ons glo in Hom omdat ons sy boodskap honderde jare ná sy dood en opstanding gehoor en as waarheid aanvaar het. Sy blydskap is van­dag ook ons blydskap, ’n blydskap wat ons jaloers moet bewaar sodat die Bose dit nie by ons steel nie.

Maar ons kan hierdie blydskap net in sy volheid ervaar as ons Jesus ken en ons verhouding met Hom verstewig. Wees elke oomblik van die dag bewus van sy nabyheid en jy sal ’n diep innerlike geluk ervaar. Die wêreld wat ryk­dom en leë plesier najaag, ken nie sy blydskap nie en hulle weet nie wat hulle mis nie. Tot hulle Hom aanneem, is hul lewe leeg en sinloos.

Liewe Here Jesus, u blydskap is kosbaar en uniek. Ons wil dit graag met ander deel, ook met ons vyande. Ons bid vir die regte woorde en die kragtige werking van u Gees sodat ons u waarheid by hulle kan tuisbring.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Roela ·

Jesus dankie vir U onvoorwaardelike liefde! My Abba Vader sonder U is ek niks nie, hierdie wereld kan nie die vreugde en liefde v my gee wat ek deur U ontvang elke dag nie. Ja ek het ook geleer ek kan nie met een voet in die wereld staan en n ander U volg nie. Dit is n moeilike en eensame besluit gesien in die konteks van die wereld, maar die vrede , U liefde U genade is ver bo hierdie aardse tydelike vreugde. Maroela dankie vir julle wonderlike boodskappies wanneer dit moeilik gaan is julle versekering altyd daar, dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.