Gedagte vir die dag: Volkome vertroue

breek-vry_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dit is waarom ek hier in die tronk ly. Maar ek is nie skaam daaroor nie, want ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag van sy koms. (2 Timoteus 1:12)

Die tweede brief aan Timoteus was waarskynlik die laaste wat Paulus geskryf het. Hy was vir die tweede keer in die tronk, maar al skryf hy in sulke omstandighede spreek hy steeds sy volkome vertroue in Christus uit. Hy was nie skaam vir sy haglike situasie of vir sy Here nie. Ten spyte van sy lyding gaan hy voort om met vrymoedigheid sy geloof te bely. Hy het geweet dat hy waarskynlik binnekort tereggestel sou word, maar hy bly oortuig van die waarheid van die evangelie en van die krag en trou van sy Here en Verlosser.

’n Lewe vir Christus is nie altyd ’n maklike pad nie; dit is dikwels ’n pad vol slaggate. In sulke moeilike tye kan ’n mens maklik begin twyfel. As ons vir ons lewe vrees of verblind word deur ons ellendige omstandighede, is dit maklik om vertroue in Christus te verloor. Maar juis dán het ons Hom die nodigste.

Jy sit dalk nie in ’n Romeinse dodesel nie, maar jy kan steeds vasgevang voel, sonder enige hoop op redding of uitkoms uit jou situasie. Wanneer jy ly, moet jy opnuut probeer fokus op die waarheid en op Hom in wie jy jou vertroue geplaas het, en wat ook nog altyd jou vertroue waardig was.

Kan jy saam met Paulus sê dat jy die Een in wie jy jou vertroue stel, werklik ken? Is jy seker dat Hy in staat is om dit wat jy aan Hom toevertrou het (jou verlossing en jou geloof), in stand te hou tot die dag wanneer Hy weer kom?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

christine ·

AMEN!!!!!!! Loof die Heer ons is Sy kinders en ons vertou en Glo volkome in ons Here!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.