Wees dus sterk en hou goeie moed, julle almal wat julle vertroue in die Here stel. (Psalm 31:25)
Is jy onseker omdat jy sondig en skaam omdat jy swig voor versoekings? Bely jou sondes, God is getrou om jou te vergewe. Glo met jou hele hart dat Hy jou wil vrymaak van elke verslawing. Doen dit stap vir stap en dag vir dag saam met Hom. Sê vir jouself: ‘Ek stel my vertroue in die Here.’ En stap by die versoeking verby. Moenie daardie dobbelkaartjie koop nie, los die bottel, jy hoef nie haar SMS te antwoord nie. Die Here het jou vrygemaak soos Hy al sy kinders vrymaak.
Dawid, God se uitverkore koning, het ook gesondig. Ons lees van egbreuk, moord en magsbeheptheid. Maar Dawid het telkens tot sondebesef gekom en hom opnuut oorgegee aan God se vergewende liefde.
‘Ek is in ’n hoek gedryf,’ antwoord Dawid die profeet Gad, nadat hy hom gekonfronteer het met die Here se straf. ‘Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is groot’ (2 Sam 24:14).
Dawid is begenadig met lewenslange geloofsvertroue. Ten spyte van sy oortredings het hy nooit sy geloof verloor nie. God het hom getugtig, ja, maar Hy het hom nie afgeskryf nie.
Hou moed, God sal jou ook nie aan jouself oorlaat nie, nie solank jy jou hoop op Hom bly vestig nie. Bid vandag saam met Dawid in Psalm 31:2–3: ‘By U, Here, skuil ek. Laat my tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou. Luister na my, red my tog gou. Wees vir my ’n rots om na toe te vlug, ’n bergvesting om my te red.’
In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak (Ps 31:6).
Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media
Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek http://www.joydigitalmag.com
AMEN