Oordeel regverdig oor jou naaste. Moenie arm mense bevoordeel of ryk mense begunstig nie. (Levitikus 19:15)
Soms staan ’n mens verstom oor die wonderlike manier hoe mense leef. Oor die groot voorbeeld wat hulle stel vir ons wat eintlik van beter behoort te weet. Ek het reeds in my vorige twee dagstukke my bevooroordeeldheid erken. Maar dit was nog nie die einde van my skaam-oor-myself nie. Van my verleë-wees oor my gebrek aan sagte oë nie!
Dit was Kersfeesoggend. Ons besluit om die dag sommer net rustig te wees en sy goedheid in te drink. Ons kamp-bure doen dit anders. Beter! Vroegoggend roep die “mamma” van die familie almal bymekaar in hul tent. Netjies uitgevat gaan sit almal in ’n kring om haar terwyl sy vir hulle die Kersverhaal lees en saam bid. Daarna sing hulle die mooiste Kersliedere saam. Hulle eer hul Verlosser skaamteloos. Bring, sonder skroom, hulde aan die Kind in die krip. Daar, in die ongerepte natuur, weerklink die klanke van ’n gesin wat spontaan die Kind in die krip eer. Wat ’n wonderlike voorbeeld!
Ongeag waar en wie ons is, ons kan altyd by ander leer. Ons kan altyd dinge beter doen as gister. Kom ons kniel elke oggend in die voetspore van ons Here sodat ons sal blý leer, bly groei: meer soos Hy sal wees en ’n soos-Hý-voorbeeld-lewe sal leef.
Vader-van-genade, ek wil vandag – onbeskroomd – ’n voorbeeld wees wat ander kan volg.