Ons wil nie hê dat julle, broers en susters, oningelig moet wees oor ons swaarkry in die provinsie Asië nie. Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. (2 Korintiërs 1:8)
God het al van sy kinders na gevaarlike plekke toe geroep. Hulle verkondig die evangelie, ook wanneer dit gevaarlik is. Hulle red kinders uit slawerny. Hulle staan op vir die onderdruktes. Hulle bring geestelike vrede aan mense wat vasgevang is in ’n oorlog. Hulle voorsien kos aan hongeres, skuiling aan die haweloses en werk vir die armes. Hulle wen grondgebied terug wat die vyand van God se koninkryk gesteel het.
Die prys van gehoorsaamheid is vir baie ontsettend hoog. Hulle word ter wille van Christus onderwerp aan geweld, siektes en selfs die dood. Ons wat nie in hierdie omstandighede leef nie kan deur ons veiligheid en gemak verblind word. Hoe kan ons dan God se dienaars bystaan?
Leer, gee en bid. Ontdek hoe sendingorganisasies oor die wêreld heen werk. Lees hulle verhale en ondersteun hulle soos wat God julle lei. Stuur geskenke en bemoedigende briewe. Deel die nood wat julle raaksien met ander, en nooi hulle om ook te help. Maar bowenal, bid. Vra God om hulle veilig te hou, te versterk en te bemoedig.
Here, ons kan maklik vergeet onder watter druk ons broers en susters gebuk gaan. Voorsien in hulle behoeftes, gee vir hulle hoop en bewaar hulle. Amen.
Hier dink ons veral aan die mense van die Wes-Kaap.