Gedagte vir die dag: Voorkoms is vandag alles

God-sentrum-van-my-lewe

Argieffoto.

Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” (1 Samuel 16:7)

Die media vertel deesdae vir ons voorkoms is alles. Ons bewonder beeldskone modelle op glanstydskrifte se voorblaaie en dink: As ek maar so ’n mooi vel gehad het of sulke pragtige bene sonder enige selluliet. Die ironie is dat die tydskrifte van allerhande truukfotografie gebruik maak om die modelle se vel so vlekloos te laat lyk of om elke rekmerk te verwyder. Dus streef ons eintlik na iets wat nie eens werklik bestaan nie – nogal hartseer.

Samuel moes die nuwe koning van Israel gaan salf het. Tipies mens soek hy toe na ’n man van statuur, iemand met lengte en ’n mooi voorkoms. God spreek Samuel aan, want wanneer die Here iemand vir sy werk roep, kyk Hy nie na afkoms of ander menslike standaarde nie. Die Here kies altyd die onwaarskynlikste kandidaat, dié een wat nie vir mense geskik lyk nie.

God is in staat om uit die nederige en wat vir die mens onaanvaarbaar is, of dit ’n onbenullige jong skaapwagter, of ’n visserman (Matt 4:18-19) of ’n tollenaar (Matt 9:9) is, uitnemende werktuie te vorm. Daarom is niemand onbekwaam vir die werk van die Here nie.

Soos met Dawid is dit God wat ons toerus, wat ons verander en vorm vir sy taak. God roep ons nie en stuur ons sommerso om sy werk te doen nie. Hy rus ons toe en dié toerusting begin by die gawe van sy Gees.

Natuurlik beteken dit nie dat ons nie na ons liggaam en voorkoms hoef om te sien nie. Nee, God verwag van ons om na die beste van ons vermoë vir onsself te versorg, dit is immers ’n gawe uit sy hand. Ons moet reg eet en genoeg oefening doen om gesond te bly. ’n Goed versorgde mens is mooi!

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

magda ·

Mens se uiterlik word oud maar jou hart bly jonk want soveel plek vir nog….soldaat vir Jesus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.