Gedagte vir die dag: Voorskou

Pa_seun_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jesaja 35:1-10

Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier …” (Jesaja 35:3-4)

Die ou volk se ballingskapgeskiedenis sorg vir van die heel mooiste gedeeltes in die Bybel. Die profete se troos en aansporing is pure poësie. Kyk dan nou hierdie Jesajaverse: een hele hoofstuk met die een heerlike prentjie na die ander.

Dit is nommerpas vir hande wat slap hang en knieë wat knak. Dit laat almal ’n tweede keer kyk. Hulle vra dalk: Het ons reg gehoor? Kan dit wees? Is hierdie prag en skoonheid (vgl. v. 1), hierdie water- strome en gras en biesies en riete (vgl. v. 6-7), regtig vir óns? Is ons ook welkom op die veilige grootpad, die gewyde pad waarop die juigendes na Sion toe loop? (vgl. v. 8-10).

Sulke beelde bring nuwe hoop vir mense vir wie die wêreld soos hulle dit ken, nie meer bestaan nie. Hulle wat voel dat hulle alles verloor het wat vir hulle lief en dierbaar is. Hulle wat moes toekyk hoe die vastigheid waaraan hulle nog altyd geklou het van hulle af weggeneem word.

Hierdie helder prentjies gee nuwe perspektief aan gelowiges van alle tye. Hier sien hulle ’n voorskou van ’n nuwe tyd, ’n nuwe koninkryk. En soos dit met voorskoue gaan, vra dit dat mense met verwagting kyk na wat vir hulle geskilder word. Dat hulle gereed staan om verras te word.

Ja, hulle moet mooi kyk, maar nie noodwendig ver nie. Trouens, sê Jesaja, “julle God is hier” (v. 4). Ons weet dit tot vandag: In elke prentjie, mooi of minder mooi, is God. Om Hom te sien, gee ons hande en ons knieë weer nuwe lewe.

Hoor my sing, Here: Op berge en in dale en oral is my God! Sy troue Vaderoë sien alles van naby.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.