Voortdurende dankbaarheid in alle tye

(Foto: Joshua Reddekopp/Unsplash.)

Deur ds. Adriaan Swart

“Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle” – 1 Tessalonisense 5:18.

Paulus gee aan die gelowiges van Thessalonika baie waardevolle raad oor hul geestelike lewe. Hy skryf oor verskillende sake, wat alles sal meewerk om hul geloof te versterk. In vandag se teksvers, beklemtoon hy die belangrikheid van voortdurende dankbaarheid in Christene se lewens.

Hy begin die vers met ’n kort en kragtige opdrag: “Wees in alles dankbaar”.

Dis baie maklik om dankbaar te wees as dit met jou goed gaan. Maar ons almal weet as jy deur groot beproewings gaan, as jy siek is, as daar finansiële probleme is, of ’n mens word ’n slagoffer van misdaad, dan vind ons dit nogal moeilik om redes vir dankbaarheid te vind.

Tog skryf Paulus: “Wees in ALLES dankbaar …”.

Ook as dit bitter sleg gaan met jou, moet jy steeds dankbaar teenoor die Here wees. Want as ons regtig begin soek na redes vir dankbaarheid, sal almal van ons talle redes in ons lewe raaksien.

Ons as gelowiges behoort nie vas te kyk teen omstandighede, sondige mense of ons menslike swakhede nie. Die Here se Woord leer ons dat ons lewens in die hande van die lewende God is (Joh. 10:27-29), dat God ons ook nooit sal verlaat nie (Heb. 13:5) en dat Jesus Christus altyd by ons sal wees (Matt. 28: 20).

Daarom kan ons met vaste geloofsvertroue opkyk na die Skeppergod wat in sy grootheid elke dag ons lewens onderhou, en mildelik aan ons voorsien in alles.

Ons moet God dank vir die goeie én die slegte, omdat Hy ook die slegte tot ons beswil wil laat meewerk. Ons moet kan glo dat die woorde van Romeine 8:28 waar is: “Ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk”.

Daarom dat Paulus met soveel vrymoedigheid gelowiges kan aanmoedig om in alles dankbaar te wees. Want dankbaarheid is ’n teken van die geloof, die geloof wat ons in die almagtige en soewereine God het. Hy is inderdaad ’n God wat sy beloftes in sy Woord aan ons sal bevestig en dit sal uitvoer. Wanneer ons dankbaar is, voer ons God se wil vir ons lewens uit (1 Thess. 5:18).

Natuurlik sal daar tye wees wanneer ons die nut van ons beproewings nie sal raaksien nie. Daar sal oomblikke wees wanneer ons die nut van ons beproewings nie sal verstaan nie.

Maar die Here vra nie van ons om die lewe met al sy uitdagings te probeer verstaan nie, maar om Hom te vertrou. Ons moet weet: Die God wat besluite in my lewe neem, die God is wat die wêreld en alles daarin bestuur. Hy laat alles vir my ten goede meewerk, want Hy weet wat Hy doen (Rom. 8:28).

God vra van my geloof in die één groot Verlosser, die Koning van die Konings en die Here van die Here – Jesus Christus (Joh. 14:6). As daardie geloof deel van my lewe is, en Jesus Christus my persoonlike Verlosser en Saligmaker is, sal ek vir seker ’n lewe van voortdurende dankbaarheid lewe.

Dankbaarheid is ook iets wat ons moet aanleer, en waaraan ons moet werk in ons lewe. Dankbaarheid is ’n deug wat ontwikkel moet word.

Selfs Paulus moes hierdie deug van dankbaarheid kweek, want hy skryf in Filippense 4:11: “Ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is”.

Hy moes hom, met ander woorde, soms inspan om tevrede en dankbaar te voel en daaraan te werk. Dankbaarheid is nie ’n saak van willekeur en keuse nie, dis ’n bevel en opdrag van God. Dit is God se wil vir ons lewe. God verwag dit van ons om voortdurend dankbaar te wees.

Kom ons gaan oordink ons lewe elke dag. Het ons rede om dankbaar te wees? Daar is werklik soveel redes wat elkeen van ons kan gee, waarom ons dankbaar behoort te wees. Maar die grootste rede vir dankbaarheid moet verseker wees, dat God sy Seun Jesus Christus na hierdie wêreld gestuur het om redding en verlossing te bring. Elkeen wat in Hom glo, sal gered word (Joh. 3:16).

Kom ons gaan wees in alles dankbaar tot eer van die Here, en wy ons lewe in hierdie moeilike tye aan die Here toe.

  • Ds. Adriaan Swart is ‘n predikant by die AP-kerk Sanddrift, ‘n plattelandse gemeente 25km noord van Brits in die Noordwes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

charmaine ·

Selfs in die “lockdown” tyd het ek weereens besef hoe dankbaar ek is, ek is danbaar dat my werkgewer ons van die huis laat werk nof voor die “lockdown” begin het met goeie tegnologie goeie rekenaars en en dat verseker is van ons salarisse. Dak oor ons kop, kos, water en krag. En dat ons nog steeds gesond is om dit wat ons in die tyd by ons huise verrig in goeie gees kan doen.

Yvonne ·

Here dankie dat ons kan weet U belofte staan vas…niks kan ons van U liefde skei nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.