Gedagte vir die dag: ’n Vraat

 fees-piekniek-jillwellington-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: JillWellington/pixabay.com

Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink – en julle sê: “Hy is ’n vraat en ’n dronkaard, en ’n vriend van die slegste soort sondaars!” (Lukas 7:34)

Dit is interessant dat mense somtyds aanvanklik vol lof is vir iemand anders, en dan skielik begin foutvind met so ’n persoon. Miskien het hulle ’n fout in daardie persoon gesoek omdat dit vir hulle te ondraaglik was om net goed in iemand anders te sien. Iemand het eenkeer gesê dat samelewings vir hulself helde opbou en sodra hulle die held mooi op ’n voetstuk geplaas het, kyk hulle hoe vinnig hulle daardie persoon kan afbreek.

So was dit ook met Johannes die Doper en Jesus. Johannes het ’n besonderse roeping gehad en het hom heeltemal toegewy aan sy taak. Hy het dikwels gevas en nie wyn gedrink nie (v. 33). Sy lewenswyse was dus volkome toegewy en hy het sy lewe nie soos ander mense ingerig nie. Eintlik was sy lewe besonders en uniek; tog het die mense gesê: “Hy is van ’n bose gees besete.”

Dit het hulle ook met Jesus gedoen. Hy, die Seun van God, het weer anders opgetree. Hy het geëet en gedrink (v. 34). Dit beteken Hy het mense verbaas met sy toeganklikheid. Hy was juis tussen die mense op straat. Hy het saam met hulle gekuier en sy liefde en teenwoordigheid met hulle gedeel. Maar dit was ook nie goed genoeg nie. Van Hom het hulle gesê: “Hy is ’n vraat en ’n dronkaard, en ’n vriend van die slegste soort sondaars!” Jesus sluit af deur te sê: God tree met wysheid op en sy werke bewys dit. Die Here weet hoe Hy elkeen gebruik.

Doen jy wat God van jou vra al verstaan die mense dit nie?

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.