Gedagte vir die dag:  Vrede

vrede_dam.jpg

Foto: harvestministryteams.com

Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie en julle moet nie bang wees nie. (Johannes 14:27)

Die mens is van die vroegste tye af besig om mekaar se vee, grond, stede, vroue en kinders te steel en om in die proses dood en verwoesting te saai. Moord en doodslag het met stokke en swaarde begin en is deur die jare ontwikkel tot missiele, atoombomme en ander wapens van massa-verwoesting. Wanneer ons die Bybelse voorspellings van die eindtyd lees, lyk dit skrikwekkend baie asof daar ’n atoomoorlog op die mensdom wag. Die Arabies-Joodse konflik kan blykbaar nie opgelos word nie en in lande soos Sirië is ekstremistiese leiers besig om hul eie mense uit te roei.

Oorloë teen terrorisme ontaard in grootskaalse verwoesting van infra­struktuur met verlies aan baie lewens, ook dié van onskuldige kinders. Ge­wone mense wat in vlugtelingkampe saamgehok is, begeer net om terug te gaan na hul huise, hul winkels oop te maak en hul landerye te bewerk. Vrede blyk kortstondig te wees.

Jesus belowe ons ’n vrede wat baie meer werd is as ’n ooreenkoms tussen twee strydende partye. Hy belowe ons die sielerus van ware vrede – die soort vrede waarna die meeste mense tog eintlik verlang. Dit begin diep in jouself. Maak vrede met Jesus, maak vrede met jouself en met elkeen teen wie jy ’n wrok koester of wat jy dink iets teen jou hou. Maak vrede met jou omstandighede, kom tot rus en moenie meer bang wees nie. Jou lewe is veilig in sy hande.

Here Jesus, U dring deur tot die kern van ons onvrede. U weet wat ons nodig het om in vrede met onsself en met die wêreld te leef. Ons het U nodig. Sonder U sal ons nooit hierdie angs afskud nie en altyd maar die ergste verwag. Vandag wil ek u vrede ervaar. Dankie dat U my daaraan herinner.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ansa ·

Dit is baie beter om in vrede te lewe deur jouself oor te gee aan God se nabyheid deur die natuur wat Hy vir ons gegee het. Gaan sit net op n stil plekkie en raak rustig voor God en ervaar Sy vrede dit is wonderlik. Geseende vredes dag vir almal

Theuns ·

Here U weet hoe elkeen van ons wat U aanbid verlang na U vrede wat alle verstand te bowe gaan in die verwoeste land! Amen Amen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.