Gedagte vir die dag: Vrede as erfporsie

woud_water_bome_Boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Johannes 14:27

Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. (Johannes 14:27)

Jesus laat vir sy kinders ’n erfporsie van vrede na. Hierdie vrede, so vertel Hy vir die dissipels, verskil hemelsbreed van wêreld se vrede. Laasgenoemde beteken eintlik maar net ʼn wapenstilstand, terwyl Jesus se vrede die herstel van verhoudings, ’n omhelsing van mekaar behels. Dit veronderstel nie net vrede met mekaar nie, maar ook vrede met God. Die vrede wat Jesus vir sy kinders nalaat, werk op ’n ander vlak, verduidelik Die Bybellennium. Jesus se vrede gee vir sy kinders ’n heel ander perspektief. Hy wil hê hulle moet deur God se bril na die wêreld kyk. Deur daardie bril lyk wêreldse dinge skielik vir jou baie onbelangriker as God se koninkryk. Nou verskuif jou perspektief na wat Gód van jou dink en hoe jou verhouding met Hom daar uitsien.

Op die oomblik lewe ons in ’n wêreld waar ons elke dag met onrus te doen kry. Baie min Christene ervaar werklik Jesus se vrede waaroor Hy in ons kernvers praat. En dit is jou reg om dit te besit, want Jesus los dit vir jou as erfenis. As jy na daardie vrede in jou eie lewe verlang, vrá God daarvoor. Ruim van nou af genoeg tyd in om sommer net by Jesus te wees, in sy liefde te rus en Hom toe te laat om jou met sy liefde te omvou. Nou kan jy sy vredeserfenis in besit neem en sy vrede in jou lewe ervaar.

Here Jesus, ek smag na daardie vrede wat net U vir my kan gee, wat my perspektief vir altyd sal verander. Gee dit asseblief vir my. Amen.

Bron: Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Soos koel water op ‘n brandwond, is hierdie woorde vanoggend op my gemoed na die vorige nuusartikels oor Zuma, geweld en onreg in hierdie mooi land van ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.