Ons Here Jesus Christus se goedheid is by elkeen van julle. (Filemon vers 25, Die Boodskap)
Omdat ons maar ménse bly, is dit regtig nie so maklik om altyd die groter prentjie – die hemelse prentjie – raak te sien nie. Ons bly immers mense met sekere behoeftes, begeertes en drome. Daarom kan dit tog gebeur dat ons in tawwe tye so ’n bietjie kwaad vir God is; dalk selfs ietwat verwytend kan wees of sommer net moedeloos kan voel omdat ons nie sy manier van dinge doen verstaan nie. En dan … wys dit ongelukkig ook in die manier hoe ons optree: in wat ons sê en doen. As jy van oggend so voel, kan jy jouself maar net weer vir Hom gee en die volgende lied in jou hart bid:
Laat, Heer, u vrede deur my vloei … en laat ek hoop gee waar daar twyfel is. Ek wil u lig in duisternis laat skyn. Laat ware vreugde altyd uit my straal.
O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag, ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag.
Laat, Heer, u vrede deur my vloei … leer my om ook soos U te kan vergeef. Maak my bereid om aan myself te sterf, dat ander U al meer in my kan sien.
Vind jou vrede in die Een wat die groter prentjie van jou lewe veilig in sy palm vashou.
Ag Here, laat u vrede vandag heeldag deur my vloei, asseblief. U genade ís mos by my.