Gedagte vir die dag: Vrede in jou gedagtes

Argieffoto

Argieffoto

Lees: Filippense 4:1-9

Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees. (Filippense 4:8-9)

Die tweede manier waarop jy God se vrede in jou lewe kan ervaar, is om jou gedagtewêreld te orden. Mense wat verteer word deur allerhande onnodige vrese sal tevergeefs probeer om in vrede te leef. Jy weet self hoe jy sukkel om aan die slaap te raak en hoe gespanne jy is as ’n groot ramp jou gesin tref. En dit help ook net mooi niks om aan daardie ramp te bly dink nie. Die enigste oplossing vir hierdie spanningstoestand is om jou gedagtes te fokus op al daardie dinge “wat edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is”. Nadat jy jou probleme na God gebring het, doen dan die dinge wat jou Bybel jou aanraai. Eers dan sal die God van vrede in jou lewe tuiskom.

’n Mens kan jou lewe verander deur positief te begin dink. Want dit is ons gedagtes wat op die ou end ons dade bepaal. “Vul jou gees met gedagtes oor God en die verlange na die ewigheid, dan sal God sentraal staan in die uitvloei van jou lewe. Vul jou gedagtes met alles wat waar en eerbaar, regverdig en mooi is en die vrede van God sal met jou wees,” lui ’n aanhaling van Ralph Heinen in Die groot boek van Christelike aanhalings. En hierdie soort vrede sal niemand ooit weer van jou kan wegneem nie.

Here, ek wil nou my gedagtes op U en u beloftes fokus, sodat u vrede vir altyd in my lewe teenwoordig sal wees. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.