Gedagte vir die dag: Vrede met almal

hartseer-vrou-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here het vir hulle vrede met almal rondom hulle gegee, soos Hy plegtig aan hulle voorouers beloof het. Nie een van al hulle vyande was opgewasse teen hulle nie. Die Here het hulle gesag oor al hulle vyande gegee. Nie een van al die goeie dinge wat die Here vir Israel beloof het, het agterweë gebly nie. Elkeen van hulle het gebeur. (Josua 21:44-45)

Hierdie verse is die bewys dat God sy beloftes nakom. Nie soms nie – élke keer.

Nie een van die ongelooflike beloftes wat God aan Abraham en sy nageslag gemaak het, het vergete gebly of is onvervuld gelaat nie. Alles wat God gesê het Hy sal doen, het Hy gedoen. Hulle het nie net rus van hulle vyande geniet nie, maar ook die sielsrus ervaar wat kom uit die wete dat God betroubaar is.

As jy die res van die boek Josua lees, sal jy sien dat die Israeliete die land nie heeltemal ingeneem het nie. Omdat hulle lui of bang was, of dalk ’n kombinasie van die twee, het hulle ’n deel van hierdie opdrag nagelaat. Hulle het gewoon in die land, maar omdat hulle nie die taak wat God aan hulle gegee het heeltemal afgehandel het nie, het hulle nie alles ontvang wat hulle kon gehad het nie. Hulle ontrouheid het nie veroorsaak dat God nie sy beloftes nagekom het nie, maar hulle moes die gevolge daarvan dra.

Is dit nie so dikwels ook vir ons waar nie? Hoe dikwels verbeur ons alles wat God vir ons wil gee omdat ons te gou moed opgee? In watter beloftes jy ook al vandag glo, moenie moed verloor nie. Soek jy genesing? Herstel vir ’n stukkende verhouding? Vryheid van ’n verslawing? Soek jy leiding? Hou aan glo en hou aan gehoorsaam wees aan God se Woord. Moenie moed opgee nie. God sal sy beloftes nakom. Hou jy maar net aan vertrou.

Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom. – 2 Petrus 3:9

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.