Gedagte vir die dag: Vrede vir jou          

Blom_veld_stiltetyd_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. (Filippense 4:7, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

Jesus is reeds in Jesaja Vredevors genoem. As weergeborenes kan ons gevul wees met vrede juis omdat ons vrede het met die Prins van vrede, die Vredevors, Jesus Christus. Ons is nie meer in sonde en vyandskap met Hom nie.

In ’n wêreld waarin daar soveel vyandigheid en onvrede is, kan ons op God se vrede reken. Ja, ons kan te midde van al die onvrede in ons harte totale vrede hê. Dit is nie altyd moontlik om hierdie vrede te verstaan nie. God se Woord sê sy vrede gaan alle verstand te bowe. Wanneer jy in hierdie vrede leef, sal jou hart en verstand veilig wees.

’n Hart vol vrede bedink nie boosheid nie, koester nie haat nie, word nie deur vrees beheer nie. Spreuke waarsku dat jy jou hart moet bewaar – en hoe beter as om jou hart te vul met God se vrede.

Ons God is só getrou. In sy Woord is baie voorskrifte en raad, maar daarmee saam ook oplossings en aanwysings vir elkeen daarvan. Hoe meer tyd ons in die Woord bestee, hoe makliker word dit om God se stem te hoor en die Woord beter te ken. Tyd met sy Woord beteken tyd met die Vredevors. Waar kan jy meer vrede ervaar as juis in die samesyn met Hom?

Here my God, vul my wese met u vrede wat ook my hart en sinne bewaar. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.