Gedagte vir die dag: ’n Vreemde geselskap

Stiltetyd_Natures-Valley-Boekevat-Foto-Melanie-Schlenter.jpeg

Foto: Melanie Schlenter

Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en aan hulle mag gegee. (Matteus 10:1)

Wie was die twaalf manne wat Jesus uitgekies het? Waarom juis hulle? Twee dinge tref ’n mens as jy die dissipellys lees:

Eerstens: Hulle was doodgewone mense, mense soos ons. Hulle was nie ryk of invloedryk nie, hulle het nie sosiale status gehad nie, hulle was nie politieke leiers nie. Die meeste was vissers, manne wat tussen hul skuite ’n bestaan moes maak. Tomas was ’n skrynwerker. Matteus ’n belastinggaarder. Nie een was ’n skrifgeleerde, ’n priester of ’n Fariseër nie. Iemand het gesê: Jesus soek nie soseer buitengewone mense om buitengewone dinge vir Hom te doen nie, maar eerder gewone mense wat gewone dinge vir Hom buitengewoon goed kan doen.

Tweedens tref dit ’n mens: Watter onverwagte, amper onmoontlike groep! Kyk na die lys. Petrus met sy groot mond wat hom gedurig in die moeilikheid sou bring. Jakobus en Johannes wat sulke vinnige humeure gehad het dat hulle hul mededissipels dikwels in die harnas gejaag het. Dan was daar die depressiewe Tomas en Matteus, die tollenaar-volksverraaier. Om nie van Simon die Seloot (“Fanatikus”) te praat nie, die man wat in ons tyd as ’n terroris afgemaak sou word. In enige ander geselskap sou hy in ’n donker straatjie sy swaard uitgepluk het om die tollenaar se lewe kort te knip. Maar in Jesus se teenwoordigheid is dié uiteenlopende groep, mense met foute en sondes en al, in een familiekring saamgesnoer. Omdat Jesus hulle so onvoorwaardelik liefgehad het, het hulle geleer om mekaar ook lief te hê.

Dit gebeur ook vandag. In elke gemeente roep die Heer mense wat verskillend is, mans en vroue wat mekaar verkeerd opvryf. Hoe meer ons van Jesus se liefde vir ons bewus word, hoe liewer kry ons mekaar.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

FM ·

“om gewone dinge buitengewoon goed te doen”

ons dink om deur Jesus gebruik te word is daardie

blinde
kreupele
sterwende
sieke

die gewone
baie dankie vir hierdie perspektief

Jan Seerot ·

My maat, as jy darem net geweet het, maar jy weet nie. Net God weet. Daar is min oor, maar daar is baie hoop. En baie geloof.

Yvonne ·

Here dankie dat U die potentiaal in elkeen van ons raaksien, gebruik dit Here tot eer en verheerliking van U naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.