Gedagte vir die dag: Vrees se kloue

See-strand-gras-Nathan-Steyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Hy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!” (Dan 10:19)

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde ver dryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. (1 Joh 4:18)

Om bang te wees is ’n emosie wat alle mense ken. Dit is ’n natuurlike reaksie op omstandighede wat vir jou ’n bedreiging inhou. ’n Mens vermy die dinge waarvoor jy bang is. Maar soms kan jy dit nie vermy nie; dis dinge soos geweld, inbraak, oorlog en nog baie ander goed waaroor jy geen beheer het nie. Dan word ’n matige bangheid ’n vrees. Jy beveilig jouself so goed moontlik teen die dinge wat jy vrees. Soms raak jou vrees ’n fobie, ’n buitengewone vrees wat jou lewe kan lamlê.

In die Ou Testament is daar ’n ander gebruik van die woord “vrees” waaraan ons tog aandag moet gee. Ons hoor dikwels dat ons God moet vrees. Maar dis nie ’n wegholvrees nie, eerder ’n naderkomvrees. En daarom word dit deesdae meesal met “ontsag” vertaal. Gee aan God die eer en bewondering wat Hom toekom. En dan ontdek jy dat jy niks hoef te vrees nie. God sorg vir sy kinders. So het Daniël gehoor toe hy voor moeilike omstandighede te staan gekom het: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet!” Watter wonderlike versekering is dit nie!

Johannes sê iets baie besonders oor vrees. Hy sê waar liefde is, kan daar nie vrees wees nie. Liefde verdryf vrees. Hy verwys veral na die vrees vir straf. Party mense vrees dat God hulle gaan straf. Nee, sê Johannes, as jy besef hoe lief God jou het, en as jy Hom in antwoord daarop liefhet, is vrees daarmee heen.

Moenie vrees nie, jy vir wie God liefhet!

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Loots ·

Dis wonderlim om hierdie waardevolle stukke op maroelamedia te sien. Hou so aan ouens, ons het dut nou meer nodig as ooit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.