Vrees vir die Here

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

“Die Here is die Almagtige wat oor die gerubs troon.” 1 Samuel 4:4

Wanneer my geestelike lewe begin draai om my eie selfsugtige geestelike behoefte aan geestelike gelukbringers, verloor ek iets wat die wese van ons godsdiens en ons geestelike belewenis raak, naamlik die vrees vir die Here. Vrees, nie in die sin van verskrik en bang wees nie, maar vrees soos die woordeboek sê: ’n diepe ontsag, eerbied en respek vir wie God is. ’n Heilige eerbied vir die lewende God. Wanneer mense hulle vrees vir die lewende Here verloor, dien en aanbid hulle nie meer die Here soos wat Hy dit wil hê met ’n heilige eerbied, respek en ontsag nie, maar verdwaal hulle in ’n selfgesentreerde godsdiens waar ek en my ervaringsbehoeftes die belangrikste is.

Prof. Albertus van Zyl wat die twee Samuel-boeke vir die 1983-Afrikaanse Bybelvertaling vertaal het en talle artikels en Bybelkommentare oor die Samuel-boeke geskryf het, skryf dat die boek 1 Samuel wil uitroep: Die Here alleen is God! Hy is heilig! Hy is in die woorde van 1 Samuel 4:4: “die Here, die Almagtige wat oor die gerubs troon”.

Deur die tragiese afloop van die gebeure wou die Here vir Israel, en vir ons, op die stukkie van die reispad leer: Ek gaan nie toelaat dat julle met My doen wat julle wil in die naam van godsdiens nie. Ek gaan nie toelaat dat julle met selfsugtige godsdienstig my Naam misbruik en My probeer manipuleer nie. As julle in my teenwoordigheid wil leef, as julle my seën in julle lewe wil ervaar, as julle My wil dien, eis ek van julle ’n heilige eerbied vir wie Ek is.

Omdat God God is, omdat God vir Israel en vir ons liefhet, is daar hoop! Twintig jaar later kom Israel weer saam. Dié keer by Mispa. Die swaarkry en teëspoed het hulle verander. In die twintig jaar het Israel geleer wie God is. Samuel het vir hulle in hoofstuk 7:3 gesê: “As julle met julle hele hart na die Here terugkom, moet julle alle vreemde gode tussen julle uit verwyder. Rig julle hart op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red.

Israel het by Mispa bymekaargekom om dit wat in hulle harte verander het, ook deur hulle dade te bevestig.

  • Die water wat hulle uitgegooi het in hoofstuk 7:6 is ’n simbool daarvan dat hulle hul harte in berou voor die Here uitgiet.
  • Hulle verootmoedig hulle verder voor die Here deur te vas.
  • Anders as in hoofstuk 4 vertrou hulle nie meer op die ark as ’n godsdienstige gelukbringer nie. Terwyl die Filistyne optrek, vra hulle in 7:8 vir Samuel om vir hulle te bid.
  • Waar hulle van selfvertroue in hoofstuk 4 geskreeu het, is hulle nou bang en vertrou net op die Here vir uitkoms.

God het hulle gebede verhoor en behaal deur ’n wonderwerk die oorwinning vir hulle. Tydens Samuel se lewe het die Filistyne nooit weer oor Israel geheers nie (7:13).

Daar het by Israel nog ’n dieper hartsverandering gekom wat ons moet raaksien. Toe Israel besef het wie is God, het hulle hulleself ook in perspektief begin sien. Wanneer jy besef wie is God, besef jy ook wie jy is.

  • Dan word mens bewus van die grootheid en ewigheid van God in kontras met die kleinheid en verganklikheid van die mens.
  • Dan wil ons saam met Dawid in Psalm 8 vra: Wat is die mens dat U aan hom dink?
  • Dan besef jy hoe groot die liefde en sorg van die Here is en wat dit beteken om as ’n genademens te leef wat die Here in egtheid met ’n weerlose gebrokenheid dien.

Wie besef wie is God en wie is ek, benader die lewensreis anders. Op die lewensreis kom daar ’n rustigheid, kalmte en dieper vrede, want op hierdie reis is die groot God in beheer, Hy is met my op pad en ek is veilig in sy hande.

Wanneer jy klein voor ’n groot God is, word jou Ikabod-ondervindings van “die Here het die eer uit Israel gevat”, ’n Eben Haeser-belydenis van afhanklikheid “tot nou toe het die Here ons gehelp”.

Daarom kan ons in verwondering saam met Sheila Cussons in haar gedig, “Komma”, bely:

’n Glinstervliegie kleiner as ’n komma
kom sit vertrouend op my hand
en begin sy persoon versorg, en ek gevlei
durf my skaars roer:
soos hy so tuis
vermetel tuis is ek in U:
O Onveranderlike, Oneindigende,
Onbeginnende Woord deur Wie ’n klein
verrukte vuilerige kommatjie flits.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.