Gedagte vir die dag: Vrees

Boekevat-Wortelgat-Berg-ABrits.jpgMoenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. (Jes 41:10)

Vrees is sieldodend. Dit is een van die gevaarlikste siektes wat onder ’n gemeenskap en ’n volk kan posvat. Dit is al oor en oor bewys dat die vreesfaktor ’n afbrekende effek op mense het en dat dit ’n gemeenskap kan lamlê. Maar waarom vrees mense? ’n Mens vrees enigiemand of enigiets wat jou lewe bedreig, wat jou van jou lewensgeluk kan beroof. In die lig van toenemende inbrake, molestering en verkragting vrees mense dat hulle woonplekke nie meer veilig is nie. Die talle huise met hoë mure en sekuriteitstelsels is ’n bewys daarvan. Ons vrees die misdadige element in ons samelewing. Ons vrees dat daar nie vir ons kinders ’n toekoms in die land is nie. ’n Groot deel van ons bevolking vrees die geweldige impak wat armoede en werkloosheid op hulle het. Daar is inderdaad baie vreesaanjaende dinge aan die gebeur.

En dan hoor ons by herhaling dat die Bybel vir ons sê: “Moenie vrees nie!” Dadelik wil ons weet hoe dit dan moontlik is in die lig van so baie negatiewe faktore. Dit is moontlik omdat God aan ons kant is. En ons God is magtiger as enige bose mag. Ja, natuurlik moet ons versigtig wees en ons nie aan gevare bloot stel nie. Maar ons moet leer om nie in ’n vreeskultuur vasgevang te word nie. Ons moet met veel groter Godsvertroue leef. Glimlag meer en praat minder oor alles wat sleg is. Kom ons gee dit vir die Here. En kom ons verkondig die evangelie van hoop en verlossing sodat die vrede wat God gee in ons land by al hoe meer mense inslag sal vind.

Daar is geen vrees in die liefde nie.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

At ·

Hierdie stukkie waarheid moet eintlik in die nuus afdeling geplaas word sodat al die mense wat so maklik ander mense slegse en negatiewe kretiek lewer dit kan lees. Jesus het vir ons duidelik gese dat ons ons naaste moet lief he, dit sluit jou vyande in, dat jy vir hulle ook moet bid ens.
Ons land is egter vol haat van alle kante af, net God kan ons help met die hulp van ons landsburgers deur terug te keer na God toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.