Gedagte vir die dag: Vrese

breek-vry_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timoteus 1:7)

Toe ek jonger was, het ek spottenderwys na myself as “mej Versigtig” verwys. Dit was hoe ek was: oordrewe versigtig. Eintlik bang, om die waarheid te sê.

Wanneer ek in ’n groep was, was ek bang dat ek op ’n manier verwerp sou word. Dat niemand met my sal wil gesels nie, of dat hulle my geselskap nie interessant genoeg sou vind nie. Méér: Dat hulle my net een kyk sou gee en besluit dat ek nie die moeite werd is om mee vriende te word nie.

Wanneer ek buite was, sou ek versigtig wees vir slange of spinnekoppe of gladde klippe. Hoewel ek baie lief vir die buitelug is, was daar destyds altyd die een of ander vrees wat my vreugde gedemp het. En dikwels sonder dat ek eens daarvan bewus was …

Daar was nog baie “versigtighede” en vrese waarmee ek moes saamleef, en ek was daarvan oortuig ek is bloot iemand wat in my pasoppens bly. En dat dit dit goed so is; dit hou my veilig en gesond.

Tot op ’n dag. My neef het my genooi om saam met hom en ’n klompie vriende te kuier. Ons was studente en hy het my vertel wat hulle sou doen, en toe bloot bygevoeg: “Kom jy saam?”

Ek het geen rede gehad om nié saam te gaan nie – maar ek het nogtans die uitnodiging vriendelik van die hand gewys.

Sy reaksie het my verras. “Jy hoef nie heeltyd so bang te wees nie,” het hy gesê.

“Maar ek ís nie!” het ek teëgekap.

Sy woorde was egter ráák en ek het besef: Ek is regtig bang vir baie dinge, ook dit waarvoor geen mens hoef bang te wees nie. Dalk was dit nie sy bedoeling nie, maar sy “vermaning” het my lewe verander. Bietjies-bietjies het ek van my irrasionele vrese ontslae geraak deur elke dag ietsie kleins te doen wat my uitgedaag het. Soos om vir ’n vreemdeling te glimlag. Of om vir ’n kassier by die winkel te vra hoe dit gaan.

Mettertyd kon ek groter begin waag, en kort voor lank het die lawwe vrese my finaal verlaat.

Ek het besef die Here het my elke dag geduldig aangepor om my vrese te los. En daarvoor sal ek Hom ewig dankbaar wees.

Deesdae, as ek agterkom dat die een of ander vrees weer in my hart kom nesskop, sal ek dit dadelik uitjaag met ’n Paulusvers: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim 1:7).

Here, dankie dat ons nie met vrese hoef saam te leef nie.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae