Gedagte vir die dag: Vreugde

blydskap_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

U teenwoordigheid sal my met vreugde vul. (Handelinge 2:28)

Vra mense wat “geluk” is, en hulle skets prentjies van gerieflike huise, tevrede gesinne, feeste, die wen van ’n boerpot, en – as hulle arm en flenters langs die strate is – ’n warm maaltyd. Soos Eliza Doolittle sing: “Lots of choc’late for me to eat / Lots of coal making lots of heat / warm hands, warm face, warm feet / O, wouldn’t it be luverly!” Verstaanbaar, en selfs roerend. Dié wat het, wil meer hê. En dié wat nie het nie, wil hê wat die ander reeds het. Vaagweg word dit onder meer as “geluk” beskryf. Maar “geluk” is meer as dit.

En vreugde het ander kwaliteite – kwaliteite wat Dawid as digter van die psalms en vervul met die Heilige Gees meermale beleef het. Dis wat Petrus hier in sy toespraak aanhaal. Wanneer Jesus vir sy dissipels sy “blydskap” toewens, het Hy iets in gedagte wat Dawid in gedagte het: die vreugde van die Teenwoordigheid van Iemand wat jy liefhet en wat jy weet jou liefhet met al jou vratte. God self, deur sy Gees.

Wanneer Jesus sy blydskap en vreugde oordra, breek Hy brood, wetend dat sweepslae, ’n kroon van dorings en spykers deur sy hande op Hom wag. En Hy praat van blydskap! Vreugde! Sý vreugde! Selfs Eliza Doolittle sou dit nie wou hê waar sy arm in die koue sit en blomme verkoop nie.

Dis tog iets anders as warm voete en sjokolade. Die “vreugde” van Christus is dikwels vir die Christen net so onverstaanbaar soos vir die dissipels by die laaste maaltyd. Maar Petrus het besef dat Dawid iets daarvan digterlik gesnap het: “U teenwoordigheid sal my met vreugde vul.”

Toe ek ’n kind was, het my geliefde tant Tita in die Kaap skoolgehou. En elke Vrydagaand het sy met die trein “huis toe” gekom. Watter vreugde was dit nie om saam met my ouers op die stasie vir haar te wag nie! En wat ’n heerlikheid om haar teen ons vas te druk. Haar teenwoordigheid was vreugde en liefde, soos God S’n ewighede meer is.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.