Gedagte vir die dag: Vreugde en vrede is joune

blydskap_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Romeine 15:13 – AFR83)

Vandag wil ek jou bemoedig. Vergeet van al die water wat lankal onder deur die brug geloop het en gryp vandag met al twee hande aan. Gister is verby, maar vandag is joune! So dikwels hou ons vas aan iets vanuit die verlede, wat verby is en nooit weer gaan wees nie. Maar ons het vandag en God het steeds ’n plan, ’n hoop ’n toekoms met jou lewe, ongeag. Hierdie oomblik is ’n geleentheid aan jou gegee. Nuut, vars en propvol potensiaal.

Jy het ʼn blink toekoms! Die beste jare en herinneringe lê nog voor jou! Koop die tyd uit. Enige mens wat ’n oomblik nietig ag, het nog nie die waarde van die lewe besef nie. Mag jy vandag vreugde en vrede vind deur jou geloof in Christus Jesus. Sodat jy hierdie dag met ’n sterk verwagting in jou hart aanpak. Hierdie kosbare vers moet ingebed wees in jou binneste: “Mag God julle… met alle vreugde en vrede vervul…”

Is dit wat jou hart en siel vandag begeer? Daar is net een antwoord en sy naam is Jesus!

In Jesus is ons vry, verlos en vergewe, nie deur ons eie goeie werke nie, maar deur ons geloof in Hom  In Jesus Christus het ons die Heilige Gees wat deur Hom aan ons belowe is. Deur die Heilige Gees is ons as sy eiendom, sy kinders, beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons geregtig is op elke belofte in die Woord van God. God is nie ’n mens nie, Hy eer altyd sy Woord. Hy is altyd dieselfde en verander nooit nie. So wees blymoedig en volkome oortuig dat jy bestem is vir grootsheid, deur die krag van die Heilige Gees wat in en deur en vir jou werk!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.