Gedagte vir die dag: Vreugde in Jesus

boekevat-blydskap-spring-van-vreugde

Foto: blisshabits.com

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! (Filippense 4:4)

Vandag het ek by my siek vriendin gaan kuier. Sy lê al dae lank plat op haar rug. Dreineringspype tap bloed uit haar linkerheup. Ek was by haar voor sy in is vir die operasie. Sy was toe ook in pyn en moes baie ver­duur. Nou is die infeksie in haar been uitgesny en die drukking minder. Sy ly aan rumatoeïde artritis en dit is nie haar eerste operasie nie.

Maar sy glimlag so mooi toe sy my sien naderkom, ek wil huil. Sy sê dit gaan goed, dit gaan baie beter, die Here is goed, sy is bly die operasie is ver­by, nou gaan sy gesond word. Ons bid saam, ons sê dankie en maak toe grappe oor die lelike bruin skildery wat aan die oorkantste muur hang. Nee, ek sal dit nie hier beskryf nie, smaak verskil. Maar daardie skildery is nou een van ons twee se ‘in-grappies’. As dit dáárvan afgehang het, het sy nooit ge­sond geword nie of dalk het sy juis as gevolg daarvan vinniger reggekom. Haar vreugde, haar blydskap hang nie af van vrolike prentjies nie. Haar vreugde vind sy in Jesus. Sy put dit uit haar liefde vir Hom en geen siekbed of pyn sal dit van haar wegneem nie.

Sy is soos Paulus wat uit die tronk vir die gemeentelede van Filippi skryf om altyd bly te wees en hul medegelowiges aan te praat oor mismoedigheid. Ons vreugde in Jesus behoort nie afhanklik te wees van omstandighede nie. Ons vreugde in Hom spruit uit sy nabyheid. Hy sal jou nie verlaat nie. Selfs in jou pyn, selfs in jou eensaamheid is Hy by jou. Hoe voel jy vandag oor jou hartsgesindheid? Het jy die blydskap van iemand wat Jesus liefhet?

Here Jesus, vergewe my dat ek soms so mismoedig raak dat ek sukkel om u blydskap uit te leef.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Attie en Susan ·

Ons bid saam vir Jesus se volkome aanraking en genesing – DIT IS ‘N VREUGDE IN DIE HART OM IN JESUS CHRISTUS TE GLO, HOM VERTROU EN AL DIE EER EN LOF KOM HOM TOE HALLELUJAH !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.