Gedagte vir die dag: Vreugde is in die lug

Groep_vreugde_blydskap_cotrugli-org.jpg

Foto: cotrugli.org

Ek raai mense aan om die lewe te geniet. Vir die mens is daar niks goeds onder die son nie, behalwe om te eet en te drink en vrolik te wees, en dat vreugde hom begelei onder al sy geswoeg tydens die lengte van sy lewe wat God hom onder die son gee. (Prediker 8:15)

Jy kan die elektrisiteit in die lug voel as ’n groot rugbywedstryd begin. Enige ou jaar voel ook so. Die bal is in die lug.

Wie gaan dit vang? Watter wedstrydpatroon gaan in die nuwe jaar ge volg word? Nie een van ons weet wat alles op ons wag nie, soos die Prediker sê. Nogtans, al weet ons nie wat voorlê in die jaar wat voor ons uitgestrek lê nie, het ons ’n keuse oor hoe ons eie wedstrydplan daar gaan uitsien. Ons kan proaktief besluit watter gedagtes en emosies in die nuwe jaar in ons lewe gaan wen. Ons kan ook kies waarmee ons ons gaan besighou. Die Prediker help ons hier. In hoofstuk 8:15 beveel hy vreugde aan. Hy sê daar is vir ons niks beters hier op aarde nie as om ons brood met vreug de te breek. Dit is vir hom sinoniem met die regte emosies. Die Prediker nooi ons dan uit om in God se teenwoordigheid ons brood te breek en fees te vier.

Ons moenie passief wag totdat ander mense ’n fees uitroep nie. Ons is die feesskeppers hier en nou en in die nuwe jaar. Elke stukkie brood, elke koffie, elke kuier is ’n feesgeleentheid. Maak feesviering in God se teenwoordigheid ’n nuwe geestelike dissipline op die pad vorentoe.

Vreugde is nie maar net ’n hipotetiese moontlikheid nie. Ons moet dit om elke hoek en draai skep soos wat die Prediker vir ons sê om te doen. Ons doen dit inderdaad as ons vrolik eet in die teenwoordigheid van ons Heer en ander mense. Ons is voltydse vreugdeskeppers en vreugde-verspreiders. Ons gee die pas hier aan in die Here se goeie Naam. Sy vreugde borrel uit oor al ons woorde en dade.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.