Gedagte vir die dag: Die vreugde van ouderdom

paartjie_gesels_uitsig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Lukas 2:25-40

“Here, nou kan u diesnkneg in vrede sterf soos U my beloof het, want ek het die verlossing gesien wat U voorberei het voor die oë van alle volke, ‘n lig om God aan die nasies bekend te maak, en die glorie van u volg Israel!” (Lukas 2:29-32)

Ons almal idealiseer soms mense. Vir jong mense is dit baie keer ’n sportheld of ’n popster. Soos ’n mens ouer word, kom daar egter ander helde in jou lewe. Namate jy ouer word, kyk jy anders na die lewe; begin ander, dieper waardes saak maak. So verander die helde ook, of sal ek sê, so val die helde ook.

In vandag se Skrifgedeelte lees ons van ’n 84-jarige vrou met die naam Anna. Sy was lief vir die Here en het Hom getrou gedien. Sy was slegs sewe jaar getroud voordat sy ’n weduwee geword het. Om ’n weduwee te wees in die antieke tyd was bitter swaar, want jy het geen inkomste gehad nie. Tog, ten spyte van al haar swaarkry, het sy die Here getrou gedien deur te vas en te bid.

Ons lees ook van Simeon – ook ’n ouer persoon. Hy het uitgesien na die koms van die Verlosser! Die Gees het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterf voor hy die Gesalfde van die Here sou sien nie. Al was hy oud, het Simeon opgewonde gelewe. Hy het in swaar en goeie tye aan die Here se belofte vas gehou. Hy het nooit in sak en as gaan sit en saam met die moedeloses gekla oor hoe swaar die lewe is nie. En toe Simeon uiteindelik die Kindjie in sy arms kon vashou, het hy opgewonde uitgeroep dat die Here hom in vrede kan laat sterf.

’n Mens leer so baie by hierdie twee ouer mense. Hulle het ’n vreugde vir die lewe gehad, al was hulle oud. Hulle het die Here gedien sonder ophou. Hulle kla nie en sit nie op die ouetehuisbankies voor die eetsaal en wonder wanneer die Here hulle gaan kom haal nie. Nee, hulle lewe geesvervuld, met vreugde. Hulle werk in die koninkryk, hulle is diensbaar.

Here, help my om, soos ek ouer word, met al hoe meer vreugde te lewe. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veritas ·

Wat is verkeerd daarmee om by die ouetehuis, voor die eetkamer op ‘n houtbankie te sit en wonder wanneer dit jou tyd is om jou Skepper te ontmoet? Dit is tog seker beter as om te sit en wonder wanneer Julius Malema die emmer gaan skop. Of hoe?

Pop ·

Veritas, regtig!! Sit maar op jou bankie. Ek hol liewer rond met seer lyf en al. Die Here gee my elke dag krag om my dagtake te doen. Ek gaan nooit as te nimmer op n bankie sit en wens om te dood nie. Veritas , ons het Malemas en zumas in ons lewe. Maaaar, ons het Jesus ook. Leef eerder vir hom en vergeet die res. EN drink n glas wyn!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.