Gedagte vir die dag: Die vreugde van ouerskap

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Lees: Psalm 127:3

Kinders is ’n gawe van die Here; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. (Psalm 127:3)

Ons kinders is lankal uit die huis uit en daar heers ’n rustigheid tuis. As ons egter hoor hulle kom kuier, word die gemeste kalf omtrent geslag. Ek kook ’n storm los, ons braai vleis en kuier vreeslik. Daar’s nie ’n oomblik se stilte nie. Ons kinders verskaf ons baie vreugde en daarvoor is ons die Here ewig dankbaar.

Ons lees in Psalm 127:3 kinders is ’n gawe van die Here. Wat ’n voorreg is dit nie om kinders te hê nie! Natuurlik is dit nie altyd maanskyn en erekleurebalkies nie. As ’n mens soms moedelose ouers se stories hoor, krimp jou hart vir hulle ineen. Jy kry hulle jammer en probeer hulle moedeloosheid verstaan. Om kinders te hê, is nie altyd maklik nie, maar dit was nie God se oorspronklike idee nie. Adam en Eva se val in die paradys het ouerskap gekompliseer.

As ek net dink hoe mense en kinders in een gesin verskil; wens ek elke kind het met ’n persoonlike handleiding in die wêreld gekom. Kinders se persoonlikhede verskil; daarom moet hulle verskillend behandel word. Hulle is ook geneig om alles fyn dop te hou en vergelykings te tref. So sal hulle vinnig vir jou sê jy het gister so gemaak, maar vandag doen jy dit anders. Of: “As ek gedoen het wat Boeta gedoen het, sou my boude gebrand het.” Dit maak die grootmaakproses beslis nie makliker nie.

Ouerskap is nie maklik nie, en ons kry soms swaar met al die besluitneming en toutrekkery. Nogtans bring ons kinders vir ons groot seën. Ons sien hulle ontwikkel en groei, ons beleef hulle persoonlike ontwikkeling of vordering op die sportveld. Beste van alles is om ons kinders groot te maak in die vrees van die Here en te beleef hoe Hy in hulle lewens werk en belê.

Here, dankie vir al die vreugde wat my kinders my verskaf. Hulle is werklik ’n gawe van U af. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize ·

Ek is so dankbaar vir my Engel ek leer elkedag by haar sy is my hart en daarom maak ek en of probeer ek elke dag om haar vir God Groot te maak dankie Vader

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.