Gedagte vir die dag: Regter. Vriend. Raadgewer

man_sonsopkoms_dink_denker_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?” Die Here het hom geantwoord: “Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red.” (1 Samuel 30:8)

God was Dawid se vriend. Hy was Dawid se gespreksgenoot. Dawid het enige tyd van die dag of nag spontaan met Hom gesels en Hom oor alles geraadpleeg. Vriend teenoor vriend. Hy het nie op die ingewing van die oomblik ’n stad binnegeval of ’n oorlog begin sonder om eers die Here se leiding te soek nie.

Net soos ’n mens later weet wat ’n spesifieke persoon dink of voel omdat jy in ’n elkedagse, noue verbintenis met hom of haar leef, so is dit nodig om ’n intieme persoonlike verhouding met die Here te hê om sy stem te kan herken.

Mense sê alte maklik: “Die Here het vir my gesê … ” Dit is gevaarlik om aan te neem dat dit die Here is wat iets vir jou sê indien jy Hom nét in noodsituasies aanroep.

Toe Dawid en Abisai op ’n keer Saul se kamp binnesluip en die koning en al sy manskappe vas aan die slaap vind, het Abisai vas geglo dat dit die Here is wat hulle aan Dawid wou oorgee. Dawid het hom egter verhoed om Saul te vermoor, omdat hy geen opdrag van die Here ontvang het om dit te doen nie.

Die Here was deel van Dawid se opstaan en gaan slaap. Sy dag en nag. Daarom kon hy so mooi in Psalm 63 skryf: as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins (Bybel in Afrikaans 1933/1953).

Here, help my om gedurigdeur van U bewus te wees. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FM ·

Dankie Here
U is altyd teenwoordig.
Deur mense verlaat
Nooit deur U, Here verlaat nie
Die sein tussen U en die mens is deur Jesus verseker.
Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.