Gedagte vir die dag: Vriende vorm mekaar

kinders_hardloop_veld_cannahealth_com.jpg

Foto: cannahealth.com

Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry. Yster slyp yster, vriende vorm mekaar. (Spr 27:9, 17)

Lees Spreuke 27:9-17

Twee vriende wat werklik vir mekaar omgee, het ’n onuitwisbare invloed op mekaar. As jou vriend eerlik is, gaan jou skewe transaksies jou kort voor lank só pla dat jy daarmee gaan ophou. As jy weet dat jou vriend nie daarvan hou as jy kragwoorde gebruik nie, gaan jy jou bes doen om van dié slegte gewoonte ontslae te raak. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar. Slegte vriende kan ’n negatiewe invloed op jou hele lewe hê. As jou vriende te veel drink of dwelms gebruik, is dit feitlik vanselfsprekend dat jy op die ou end hulle voorbeeld gaan volg. Maak seker dat jou invloed op jou vriende altyd positief is. Ware vriende sien ook kans om mekaar tereg te wys as dit nodig sou word, al is dit nie altyd maklik of lekker om dit te doen nie.

Jesus stel ook vir ons die volmaakte voorbeeld wat vriende betref. “Niemand het groter liefde as dít nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel,” sê Hy vir sy dissipels (Joh. 15:13-14).

Gee jy genoeg om vir jóú vriende om vir hulle die regte voorbeeld te stel, om nie jou raad terug te hou as jy sien dat hulle fouteer nie? Word dan ook Jesus se vriend deur Hom te gehoorsaam.

Here Jesus, dankie vir my vriende wat my lewe vorm. Maak my ’n vriend vir hulle soos U vir my is en help my om absoluut gehoorsaam aan U te wees. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

esme ·

hoe kan n mens die mooi gedagtes op facebook sit dat ander dit ook kan lees dankie

Sune van Heerden ·

Dagsê Esme

Klik op die “Facebook”-knoppie (die blou knoppie met ‘n “F” in) om die artikel op Facebook te deel.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.