Gedagte vir die dag: Vriende wat God dien

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Maak vir jou broer Aäron gewyde klere wat waardig en mooi is. ’n Borssak, ’n skouerkleed, ’n mantel, geweefde priesterklere, ’n tulband en ’n serp. Die vakmanne moet gouddraad en blou, pers en bloedrooi wolstof en linne gebruik om die skouerkleed te maak. (Eksodus 28:2, 4, 5, 6)

Vir die Here was die priesteramp heilig. Daarom was net die heel beste goed genoeg. Wanneer ’n priester die skouerkleed aangehad het, kon hy die Here raadpleeg. Die Here het dan direk deur hom met die persoon of die volk gepraat wat hulp en raad nodig gehad het.

Nadat Dawid die priester Agimelek geraadpleeg het, het Saul daarvan te hore gekom en Agimelek en al die priesters van Nob laat doodmaak. Agimelek se seun Abjatar het ontkom en het by Dawid aangesluit. Toe Dawid oplet dat Abjatar die priesterkleed by hom het, het hy hom gereeld geraadpleeg om déúr hom te verneem wat die Here se plan is.

Deur die eeue het die mantel en toga sinoniem geword met roeping en toewyding aan die Here. Die profeet Elia het sy mantel oor Elisa gegooi as teken dat hy, die ouer profeet, sy kennis en profetiese gawes aan Elisa oordra.

Vroeër jare is ’n toga om die skouers van ’n jong predikant gehang wanneer hy gelegitimeer word, dikwels deur ’n ouer predikant. Daarmee is hy simbolies toegerus vir sy taak as leraar.

Vandag is daar nie meer in alle kerke ’n toga of kleed as sigbare simboliek dat ’n persoon in diens van God staan nie. Ons is geneig om te vergeet dat hulle geroepenes en gesalfdes is. Ons versuim dikwels om vir hulle te bid vir wysheid en toewyding.

Here, ek bid vir almal wat die priesterkleed dra. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.